Dis net jammer van die VSA se hoë werkloosheidskoers.
Ekonome kap terug en wys daarop dat die werkloosheidskoers deels die werkloses se eie skuld is … mense is gewoon nie meer bereid om uit hul gevestigde omgewing te verhuis na die deelstate waar daar wel werksgeleenthede is nie.
Dis is uiteindelik ook die werkloosheidskoers wat Suid-Afrika se skynbaar sterk ekonomie in die bek geruk het. Boonop is daar nie oral eenstemmigheid oor wat die werkloosheidskoers is nie. Baie mense wat as motorwagte en los werkies die pot aan die kook probeer hou maar minder as die tipiese minimum-loon verdien, beskou hulself as werkloos.
Die ekonoom, Mike Schussler, wys daarop dat Suid-Afrika minder werk skep as tipiese konflikgebiede, en boonop dui syfers daarop dat Suid-Afrika in terme van Afrika Suid van die Sahara ook swak vaar.
Selfs al word die regering se werkskeppingsdoelwitte van vyf miljoen nuwe werksgeleenthede oor die volgende tien jaar bereik – gaan eintlik maar steeds die kreeftegang geboer word.
Voeg hierby die feit dat slegs ongeveer ‘n kwart van die geld wat nodig is om die land se padinfrstruktuur in stand te hou jaarliks begroot word, dan skets dit ‘n deeltjie van die probleem. Om die indiensnemingsteiken te behaal is ‘n geraamde groeikoers van 6 % oor die volgende dekade nodig.
Dit sny egter veel dieper. Ten eerste is daar ‘n onbekende getal onwettige immigrante in die land. Syfers van etlike miljoene word beraam.
Tweedens, is daar die kwessie van werksetiek. Dit hou verband met die gees wat die soustrein uitstraal – begunstigdes wat bitter baie vir bitter min werk verdien.
Suid-Afrika het ook die grootste meetbare inkomstegaping ter wêreld. Benewens dat dit tipies op politieke sosioloë se model van relatiewe deprivasie ‘n revolusionêre klimaat skep, dui navorsing ook ‘n regstreekse verwantskap met sosio-ekonomiese en maatskaplike probleme, soos meer drank- en dwelmmisbruik, meer egskeidings, meer misdaad en voller tronke.
Minister Pravin Gordhan se belangrikste boodskap tydens die mid-termyn-aansuiweringbegroting is egter dié dat daar geen ruimte vir korrupsie en leeglêery in poste is nie. Wat dit betref, is voorbeelde van daad by die woord genoem, maar sommer met die aankoopslag van Volksblad vanoggend skree ‘n voorblad-opskrif die boodskap van nog ‘n bedenklike mynreg wat toegeken is. Boonop het die nuus dat die Valke die ondersoek na die omstrede wapentransaksie gesluit het presies die teenoorgestelde boodskap uitgeskreeu.
Die werklike toets gaan nie net kom oor die invordering en omdraai van sente wat rande moet word nie, maar die inkoop aan ‘n stelsel van harde, etiese werk, doeltreffendheid en bekwaamheid.
Die land het verskeie agterstande wat ingehaal moet word. Hieronder tel die herstel van onderwysstandaarde, wat nou onder die swakstes in die wêreld gereken word. Bevolkingsaanwas vind tot ‘n groot mate plaas in daardie deel van die bevolking wat dit die minste kan bekostig, en ‘n enorme druk op die land se ekonomie plaas. Met die president wat self ongeveer 20 kinders het is dit ‘n boodskap wat baie moeilik verkoop kan word.
