‘n Voormalige premier van Mpumalanga sal om verskeie redes onthou word, maar nie een positief nie. Hy het immers sy provinsie op so ‘n manier bestuur dat ‘n opposisieleier na sy provinsie as Mamparralanga verwys het. ‘n Voormalige adjunk-president tel self onder diegene wat ‘n gekoopte rybewys bekom het. Die sleureffek word steeds gevoel, soos die nasionale ingryping met vanjaar matriekeksamen nog voor dit begin het.
Daardie premier sal egter veral onthou word vir sy stelling dat dit in die haak is vir politici om kluitjies te bak.
Die persepsie dat dit wat politici kwytraak met ‘n knippie sout geneem moet word, loop veel wyer as Suid-Afrika se grense. Kort voor die internasionale ekonomiese krisis die wêreldaandag vasgevang het, het ‘n moraliteitsaksie in Europa momentum begin opbou, met vernaamste fokus om moraliteit by die pers en die politici op te eis.
Ongelukkig – ongeag hoe politici rasionaliseer oor waarom hulle die waarheid soms strategies buite perke moet aanwend – is dit nie heeltemal ongevraag om politici se omgaan met die waarheid te gogga nie. Selfs op ‘n vraag of die president weer op die punt staan om nog ‘n vrou te vat, moes Suid-Afrikaners vind dat hulle tot op bykans die laaste minuut die kous oor die kop getrek is. Oor beloftes wat dadels opgelewer het hou Suid-Afrika by die beste kluitjiebakkers ter wêreld kers vas.
Dié week het Suid-Afrikaners met groot verwagting uitgesien na ‘n broodnodige kabinetskommeling. Ten spyte van duidelike ontkennings uit regeringskringe, het die afwagting nie getaan nie. Selfs nie die wete dat die president se siening oor bevredigende diens dalk ‘n paar kerwe laer as die algemeen geldende norme is, het die verwagtinge laat verdamp nie. Boonop nader die land nou die pylvak van die landswye munisipale verkiesing, en ‘n skommeling, ongeag die verbetering, sal newe-effekte hê soos dikbek invloedrykes wat meen hulle is met weglatings verneder. Boonop het die bespiegelings bloedweinig moontlik plaasvervangers opgelewer wat die kenners opgewonde gemaak het – die potensiële oes lyk op die oog af maar skraal. Dit het iemand wel opgeval dat een van die moontlike kandidate vir ‘n kabinetspos, Metthews Phosa, onlangs sy deuntjie oor die omstrede mediakwessie verander het en nou een van die president se voorsangers hieroor is.
Die interessantste was egter dat die ontkennings in die wind gemaak is, en as irrelevant tot die waarheid beskou is.
Dit is egter duidelik dat baie meningsvormers, en kenners voor die voet meen dat ‘n kabinetskommeling broodnodig is. Trouens, word al die name van ministers wat die verskillende kenners genoem het, bymekaar gesit, bly bloedweinig oor wat nie die trekpas moes gekry het nie. Deurdat die regering nie deur sy ontkennings die bespiegelings kon hokslaan nie, is Suid-Afrikaners nou oor ‘n tydperk gevoer met die persepsie dat die kabinet grootliks uit paloekas bestaan.
Na strome onvleiende berigte oor ministers se doen, soos die aanskaf van peperduur vuurwaens en nog luukser hotelverblyf, onder meer, en late soos om nie munisipaliteite en dienslewering in die algemeen reg te ruk nie, was ‘n groot deel van die bevolking gereed en selfs begerig om met persepsies gevoed te word dat ‘n aantal ministers in die slag gaan bly.
Indien die bespiegelings oor ‘n kabinetskommeling bloot gerugte gaan bly, kan die hoop steeds bestaan dat die episode vir Zuma en sy kabinet ‘n openbaring was – dat om minister te wees veel meer vereis as om soms in ‘n luukse lugversorgde kantoor te gaan sit. Dat die prestasie-ooreenkomste wat geteken word ‘n bepaalde fokus op die woord “prestasie” het en dat die woord ‘n bepaalde inhoud het.
