Mediavryheid en godsdiensvryheid

“Teen die 11de eeu,” skryf die Wêreldspektrum, “was die hele Europa vir die Christendom gewen.”

Vir die Christen bring dit onwillekeurig ‘n gevoel van blydskap, verl teen die agtergrond van die allerverskriklikste vervolging wat Christene die voorafgaande eeue periodiek moes verduur.

Tien eeue later kondig die media op die voorblad aan dat ‘n groot Suid-Afrikaanse winkelgroep na ‘n bestuursbesluit alle Christelike publikasies van sy rakke verwyder het. Na verskeie uitsprake is dit steeds wasig oor wat die rede was – van swak verkope totdat die winkelgroep nie godsdienstige en politieke publikasies op sy rakke wil duld nie. Beteken dit dat die ANC-gesinde New Age die trekpas gekry het nog voor die eerste uitgawe gedruk was?

Dit is meer as net met ‘n tikkie ironie op dieselfde dag wat oor die besluit gerapporteer is, die persvryheidswaghond, Verslaggewers Sonder Grense, ook sy jaarlikse persvryheidsindeks bekend gemaak het waarin Suid-Afrika vyf plekke teruggesak het. As redes word aangevoer die regering se beoogde mediawetgewing, die aanvalle op joernaliste tydens die Wêreldbekertoernooi en die optrede van Julius Malema teenoor ‘n joernalis van die BBC.

Dieselfde dag het die winkelgroep, na ‘n storm losgebars het, sy besluit hersien. Die tydskrifte sal weer op die rakke wees, en voortaan sal die verkope van die tydskrifte hul beskikbaarheid bepaal.

Die besluit om die tydskrifte te verwyder het egter nie die eenparige veroordeling vanuit Christelike geledere gekry wat ‘n mens sou verwag nie. Trouens, op Christelike webwerwe was daar ook steun vir die besluit. Dit sal die tydskrifte, veral die wat agter die deur staan, dus loon om te besin oor wat daartoe gelei het dat die baba met die badwater uitgegooi is.

Waar die 11de eeu se sukses van Christelike uitbreiding as ‘n feitlik ongekwalifiseerde oorwinning beskryf kon word, was dit kort hierna nie so eenvoudig nie. Onder die ergste vergrype was die inkwisisie wat sogenaamde ketters vervolg het. Later het ‘n stryd tussen Rooms-Katoliek en Protestantisme gevolg, wat onder meer ‘n dertigjarige oorlog met die ergste wreedhede denkbaar ingesluit het.

Word briewekolomme in koerante, veral op hul internetweergawe, vandag gevolg is dit duidelik dat die gees van die inkwisisie wyd voortleef. Van die briewe kom neer op ‘n mosie van wantroue in God se ongedelegeerde oordeelsmag – met groot bitterheid word mede-Christene geoordeel en veroordeel omdat hulle nie presies dieselfde glo as diegene wat die oordeel uitdeel nie. Dit is ligjare verwyder van God se beloftes dat Hy self hemelinge sal stuur om die onkruid tussen die koring uit te haal en die oes in te samel. En hier word nie na ekstreme standpunte verwys wat so onder die menslike oordeel deurloop nie, maar sienswyses van hoofstroomkerke.

Die gevolg is dat hierdie debatte ook plek-plek na van die Christelike tydskrifte oorloop, en veral een hom vierkantig in hierdie kamp gaan bevind het. Die betrokke tydskrif het boonop rug styfgemaak en geweier om hom aan die gesag van die persombudsman te onderwerp toe mense wat deurgeloop het besluit het om op te tree. Die tydskrif het ook erg op Christelike webblaaie onder skoot gekom.

‘n Bloemfonteinse gemeente hou nou ‘n reeks preke met die tema wat in hooftrekke daarop neerkom: “In die begin het God die aarde en alles daarop, ook die mens, geskep.Sedertdien skep die mens God.” Inderdaad, word die godsbeeld wat sommige mense gebruik vergelyk met die beeld van God soos veral in die Nuwe Testament geopenbaar word, is daar min, indien enige raakvlakke.

Die gevolg is dikwels dat die baba met die badwater uitgegooi word. Enkele jare gelede het die Europese Unie, toe die deelnemende lande se regerings deur Christen-demokratiese partye oorheers is, ‘n beleidsdokument aanvaar: “Die gevare van kreasionisme in die onderwys.” Dit is ook deur kerklike instansies, en selfs die Rooms-Katolieke Kerk ondersteun.

Dié stap is dadelik as ‘n optrede teen die Christendom voorgehou. Word die dokument self gelees, is dit duidelik dat dit, soos die EU se grondwet, ‘n hoë premie op geloofsvryheid stel. Dit handel oor ‘n kwasi-wetenskap se aandrang om konvensionele wetenskap in skoolleerplanne te vervang.

Geloofs- en persvryheid is duurgekoopte vryhede. Dit kan egter nie so verskans word dat dit instrumenteel word om juis daardie vryhede te verongeluk nie.

Terwyl die winkelgroep se optrede lomp bly, bied dit ook aan Christene en die tydskrifte die geleentheid om te besin oor die sendingtaak, wat nie met ‘n eietydse inkwisisie verwar moet word nie.

sites ukдепутат лобановский

Maak 'n opvolg-bydrae