Stempatrone in Suid-Afrika dui juis daarop dat kiesers ander norme as ingeligtheid gebruik om te besluit waar hulle hul kruisies gaan trek. Om dit eenvoudig te stel: Terwyl riool in die strate loop, kry die party wat so swak regeer sowat 60 persent van die stemme. Opposisiekiesers trek ook nie die kruisies by partye wat dieselfde voorstaan as dit wat die kiesers Sondag in hul kerke glo nie.
Daar is min twyfel dat die ANC se mediaplanne meer met ‘n paranoia te make het oor waar die soeklig val, as die redes wat opgegee word. Dit beteken egter nie dat hierdie en ander faktore geïgnoreer moet word nie.
Die gedrukte media is effektief wêreldwyd onder druk. Koerante moet kostegewys rasionaliseer en op ander wyses bespaar om finansieel kop bo water te hou. Een van die wêreld se koerante van die hoogste kwaliteit, die Christian Science Monitor moes grootliks na ‘n internet-koerant oorslaan. Ander het omvattende programme van gemeenskapsjoernalistiek ingespan – dws daar waar kundigheid en tegnologie bymekaar gebring word soos waar ‘n persoon soos ‘n onderwyser op ‘n afgeleë ongeluk afkom, en minute later danksy sy selfoon se digitale kamera en sy skootrekenaar, ‘n netjiese berig met foto elektronies by ‘n koerant daar ver kan hê.
Dit is juis die probleem. Te dikwels is die beste kundigheid nie in die regstreekse diens van ‘n koerant nie, en het dus nie bestuurs- en nuusoordeelsinspraak nie. Die werklike kundigheid is gewoon te duur, en word teruggeval op goedkoper, minder geskikte mensemateriaal. Oorsee word soms ‘n soort voogdyskapstelsel gebruik, maar dit is ook duur.
In Suid-Afrika kan seker niemand meer in die duister wees oor kwessies soos transformasie en kaderontplooiing nie. Transformasie word boonop wetlik afgedwing, en koerante moet al te dikwels noodwendig oop oë kwaliteit inboet.
In daardie opsig help die regering wat die pers betref, juis die situasie skep waaroor dit ongelukkig is.
Stellig die beste voorbeeld van logiese nuusoordeel wat in die slag bly, is die pers se reaksie op sy sterkste bondgenoot se toetrede tot die persvryheidstryd. Verslaggewers Sonder Grense (VSG) word as een van die voorste, indien nie dié voorste persvryheidswaghond beskou. Dit hou onder meer die persvryheidsindeks by wat jaarliks aangepas word.
Onlangs, ten tyde van die ANC se Durbanse kongres, het VSG in ‘n baie sterk bewoorde verklaring die ANC oor sy mediaplanne gestriem, en duidelik gewaarsku dat ‘n koppigheid hieroor die land se posisie op die indeks kan beïnvloed. Dié verklaring is twee keer deur SAPA en ook op ander maniere aan die pers uitgestuur. Dit is min of meer met ‘n dawerende swye deur die pers begroet.
Dié week het Verslaggewers Sonder Grense sy nuwe indeks bekend gemaak, en Suid-Afrika het vyf posisies tot die 38ste teruggesak. In die meegaande verklaring word, afgesien van die regering se mediaplanne, die aanvalle op joernaliste tydens die wêreldsokkerbekertoernooi genoem, en ook die bewoording, in soveel woorde, wat Julius Malema gebruik het om ‘n BBC-joernalis uit ‘n perskonferensie te jaag.
Weer eens, so wil dit voorkom, sien die pers nie die nuuswaarde in nie. In daardie opsig word die pers een van sy eie grootste vyande. Die gebrekkige kennis gaan nie ongesiens verby nie. By ‘n Sanef-kursus het die persombudsman, Joe Thloloe, die nuusredakteurs onder meer aangespreek oor gebrekkige kennis. Ongelukkig sny gebrekkige kennis diep, soos blyk uit die gebrekkige en dikwels erg eensydige politieke insigte wat gereeld opgedis word. Hoe byvoorbeeld is dit moontlik dat ‘n betaalde rubriekskryfster se rubriek, waarin sy verkondig dat die skoonmaaksters in die Reitz-video nie geweet het hulle word afgeneem nie, deur die kanale sy weg tot in meer as een publikasie vind? Dit is egter veral in die internasionale konteks waarteen Suid-Afrikaanse politieke kommentaar benouend te kort skiet, en hulle sowat drie dekades laat in die Joop den Uyl-era bevind.
Hoe is dit moontlik dat, minder as ‘n week na ‘n landdros die media en politici gemaan het om nie die Reitz-hofsaak met skuldigvindings vooruit te loop nie, ‘n groot Sondagkoerant ‘n brief kon plaas waarin die vier >voortydig skurke genoem word en boonop ook ander onwaarhede bevat? Boonop het die persombudsman tegniese redes aangevoer om nie die klag te ondersoek nie. Dit maak die ombudsman se aanspraak dat 66 % van die klagtes in die guns van die klaers uitgewys word, belaglik – hoeveel klagtes het nie eens die ondersoekfase gehaal nie?
Die persombudsman wys ook daarop dat die pers nie meer die nuustoneel kan kontroleer nie. Die internet dra ‘n massa inligting, en die gebreke in die pers se nuusoordeel word genadeloos aan die kaak gestel.
Die buiteland bestaan uit meer as Engeland, Barack Obama en Robert Mugabe. Die feit dat Verslaggewers Sonder Grense se hoofkantoor in Parys is, maak dit nie vir Suid-Afrika irrelevant nie. Trouens, die persvryheidsindeks is kritiek belangrik omdat dit, volgens studies, ‘n regstreekse impak op die korrupsiepersepsie-indeks het, en ook daarom ‘n invloed op die beleggersvertroue-indeks. Al neem pres. Zuma ook ‘n duisend sakelui saam op sy oorsese ekskursies, sal dit nie die skade van die persersvryheidsindeks en Malema se nasionaliseringspraatjies ongedaan maak nie.
Dit is immers nie net mediabeperkings wat in die pad van uitmuntende joernalistiek staan nie. Dit is die kwaliteit van die media self wat net so ‘n belangrike rol speel.
Hoekom klink die volgende so bekend:
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.