Minister kwaad

Die minister van samewerkende regering, Sicleo Shiceka, is boos omdat opposisiepartye die indruk skep dat plaaslike regerings uitmekaar val. Sickea meen dis net enkele munisipaliteite wat verbrou, en die ander se beeld skaad. Boonop meen hy munisipaliteite het veel daartoe bygedra dat besoekers aan die wêreld-sokkerbekertoernooi ‘n positiewe beeld oor die land het.

Die minister se beskouing sou ernstiger opgeneem kon word, het ‘n klompie realiteite nie ‘n ander beeld uitgestraal nie. Die vernaamste is dat die ouditeur-generaal jaarliks, met die uitsondering van die Wes-Kaap, ‘n gans ander prentjie skilder met meer munisipaliteite wat die toets druip as wat slaag. Deur omkeerstrategie op strategie erken die regering hierdie werklikheid – al is daar bedenkinge of die omkeerstrategieë enige positiewe uitwerking het.

Voeg hierby die waterverslae, en realiteite soos dat die dorp Steynsrus nou al bykans twee weke sonder water sit en ‘n skool pas as gevolg van hierdie feit moes sluit. Kriminele klagtes is teen verskeie munisipaliteite gelê oor die dinge wat in die drinkwater voorkom. Hoë e-Coli-tellings is ‘n algemene verskynsel, iets wat slegs deur menslike en dierlike ontlasting in die water voorkom. E-Coli, wat gewoonlik self net dodelik gevaarlik kan wees as mense se weerstandigheid laag is soos weens Vigs, is eintlik ‘n verklikker dat ‘n gunstige groeimedium teenwoordig is vir die gevaarlike siektes soos cholera en maagkoors, in besonder tifoïde, wat die sterftes by Delmas veroorsaak het. Blou- en groendruppelstatus is glad nie meer ‘n vanselfsprekendheid nie, al ontken die regering dat daar ‘n waterkrisis in die land is.

In dorpe soos Sannieshof is daar basies nog net munisipale dienste omdat dit deur belastingbetalersverenigings gelewer word.

Kort-kort waag ‘n koerant dit om te wys hoe die regering musical chairs speel met onbevoegde kaders wat bloot weer elders ontplooi word. Trouens, die hoof van die ontplooiingstaakspan is self ‘n persoon wat ‘n bedenklike spoor agtergelaat het – eers in Bronkhorstspruit en toe Plettenbergbaai –aldus die ouditeur-generaal.

Staats- en provinsiale departemente en ander dienstegebruikers skuld munisipaliteite in die orde van R56 miljard. As is gedagte gehou word dat munisipaliteite jaarliks reuse bedrae weens oninvorderbaarheid afskryf, dan raak dit al hoe moeiliker en moeiliker om te begryp hoe die minister ‘n ander persepsie kan hê as dat dienslewering skrikwekkend swak is.

Die minister meen munisipaliteite werk omdat daar water in die krane is, krag in die lyne, en daar paaie is en dat verkeersligte werk. Hierdie vernis oor die houtwerk vertel min oor die gehalte van die houtwerk – van inwoners van ‘n provinsiale hoofstad wat kragrekenings kry en teen ‘n hoër tarief as die maksimum-koers aangeslaan word, wie se krag weens sogenaamde wanbetaling ontkoppel word terwyl hulle wel betaal het nie. Dit vertel nie die verhaal van mense wat hul lewe lank vir hul oudag voorsiening gemaak het, en nou hondekos moet eet om hul astronomiese kragrekeings te kan betaal nie. Dit vertel ook nie die verhaal van die minister wie se eie munisipale rekening met ‘n astronomiese bedrag in die rooi was, en ‘n munisipale bestuurder wie se eie munisipaliteit onder administrasie was, wat as LUR vir plaaslike regering aangestel is nie.

Om dit diplomaties te stel: Die minister moet verskoon dat baie mense met hom sal wil ooreenkom om met hom te verskil.

хамам спбtopcargo развод

Maak 'n opvolg-bydrae