“Die operasie is om die kanker uit sy regterslaap te verwyder en te sien hoe diep die groeisel is. Dit is kommerwekkend, aangesien die groeisel blykbaar tot by sy skedel strek,” het Marius Coertze Maandag gesê.
Derby-Lewis dien tronkstraf van 25 jaar uit vir sy rol in die moord op die eertydse sekretaris-generaal van die SAKP, Chris Hani.
Coertze het gesê ‘n mediese verslag oor Derby-Lewis se toestand is Vrydag ontvang. Die 74-jarige Derby-Lewis het verlede week ‘n suksesvolle veloorplanting op sy regterbeen ondergaan. Hy moes twee operasies ondergaan nadat hy sy been teen die ysterbasis van ‘n bed gestamp het.
Die stamp het ernstige infeksie in sy been veroorsaak.
Die gevaar dat hy sy been kan verloor het afgeneem, het sy prokureur gesê.
Tydens sy ondersoek, het dokters bevind Derby-Lewis, wat al 17 jaar van sy vonnis uitgedoen het, benodig behandeling vir velkanker en prostaatkwale. Geen verdere toetse is nog op die prostaat uitgevoer nie, het Coertze gesê.
“Dit sal waarskynlik oor ‘n week of so gebeur… die dokter wil nie hê daar moet te veel stres op die patiënt se liggaam wees nie.”
Derby-Lewis was steeds aan sy bed vasgeketting, maar is toegelaat om in sy kamer en ‘n aansluitende gang rond te stap.
Volgens die departement van korrektiewe dienste sal ‘n finale besluit oor die toestaan van parool aan Derby-Lewis teen die einde van Oktober geneem word.
Hani is in 1993 in die kop geskiet toe hy by sy huis in Dawn Bark, Boksburg, uit sy motor geklim het. Die skieter, Janusz Walus, het ‘n pistool gebruik wat Derby-Lewis, toe ‘n parlementslid van die Konserwatiewe Party, vir hom geleen het.
Walus dien ook nog sy vonnis van 25 jaar uit.
