Die voormalige polisiehoof, Jackie Selebi sal uit sy eie sak vir die appèl teen sy skuldigbevinding aan korrupsie moet betaal, het The Star vandag berig.
“Na oorweging van ‘n spektrum van alle tersaaklike faktore, het die staat ‘n besluit geneem om nie te betaal vir die regskoste t.o.v. die heer Selebi se appèlproses nie,” het ‘n justisiewoordvoerder Tlali Tlali gesê.
Selebi het bevestig dat die Staat sy aansoek om die befondsing van sy appèlproses van die hand gewys het.
“Ek sal moet sien wat ek kan doen. Ek het nie oorweeg [hoe ek vir die appèl sal betaal] nie,” sê Selebi.
Voortgaan
Maar hy het daarop aangedring dat hy voortgaan met die appèl. “Ek gaan aanhou,” sê Selebi.
Hy is skuldig bevind aan korrupsie in die Suid-Gautengse hooggeregshof in Julie en tot 15 jaar in die tronk gevonnis. Hy het in Augustus verlof om teen sy skuldigbevinding te appelleer, ontvang.
Die Staat het wel die rekening vir sy verdediging tydens die verhoor betaal, wat ‘n totaal van R17,4m gekos het.
Tlali was nie Vrydagoggend onmiddellik beskikbaar om die koerant se berig te bevestig nie.
