‘n Lasbrief is uitgereik om Eugene Terre’Blanche se vermeende moordenaar, Chris Mahlangu dadelik in hegtenis te neem ná sy borgtog teruggetrek is.
Regter Elias Matojane het in die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria gesê daar is geen bewyse om Mahlangu se bewering dat die aanval uit selfverdediging was, te staaf nie.
Matojane het ook gesê landdros Magaolo Foso het verskeie onverstaanbare bewerings in die Ventersdorp-landdroshof gemaak.
Mahlangu, wat in Julie borgtog van R5000 ontvang het, asook ‘n minderjarige medepligtige, is in April ure ná die moord op Terre’Blanche in hegtenis geneem nadat hulle glo self die polisie gebel het.
