Ons en hulle

‘n Erg verwarrende storm om ABSA se kop is besig om uit te kristalliseer, hoewel nog ruim by mekaar verbygepraat word.

Aan die een kant staan Afriforum / Solidariteit, en aan die ander kant ABSA met ou struggle-vennote. Die kliënt, wat altyd reg behoort te wees, word skaars geken.

Afriforum, wat môre tot ‘n nasionale dag van protes teen ABSA uitgeroep het, wys daarop dat die bank se uitvoerende hoof, Maria Ramos, aan ‘n Engelstalige dagblad gesê het dat die bank sy mag, as borg, sal gebruik om te bepaal hoe transformasie in rugby gedryf sal word. Dit is egter die kliënte se geld, en vir wat dit werd mag wees, die kliënte en aandeelhouers se bank. In enige onderneming vertrou die aandeelhouers sy uitvoerende bestuur toe met die taak om hul belange ten beste te dien, wat beteken kliënte moet gelukkig gehou word.

Vanoggend tree die voormalige redakteur van Die Burger en Beeld, en nou voltydse rubriekskrywer, Henry Jeffreys, vir ABSA in die bres. Hy stel eers sy nie-rassige self-opgestelde getuigskrifte, en maak dan ‘n saak vir die rasgedrewe optrede van ABSA uit. Dan regverdig hy dit aan die hand van apartheid. In die proses verval hy in erg verouderde retoriek wat nie ‘n rubriekskrywer waardig is nie.

Hy maak daarop aanspraak dat die stryd waarvan hy deel was, die steun van die mensdom gehad het, hoewel hy stekies na die VSA en Brittanje inkry.

Selfs al het Jeffreys se argumente meriete, word dit ondergeploeg in die geselskap waarin hy hom nou bevind – swart en bruin ANC-lakeie wat nou in die media ingespan word om vir ABSA se optrede in die bresse te tree. Volblad-advertensies wat daarmee gepaard gaan verdiep die spesmaas dat hier ‘n amateuragtige beeldbou-aksie in bedryf is.

Apartheid is 20 jaar gelde begraaf. Wat is die internasionale posisie nou?

Die wêreldnorm word deur die Volkereg, of te wel, internasionale Reg bepaal. Dit vind ook neerslag in die statute van internasionale sportliggame soos die IOK, Fifa, IKR en IRR. Feitlik voor die voet word politieke inmenging en rassisme in die sportkodes verbied.

Tot dit by Suid-Afrika kom. Dan is Buthana Komphela en sy parlementêre sportkomitee gereeld aan die spits. Suid-Afrikaanse rugby het al by die internasionale liggaam met eier in die gesig gesit hieroor, en dit is uiters politiek korrek en diskreet hanteer.

In die beroepsera van sport is sake nog moeiliker. Sommige bonde is ryker as ander, en hierdie ryk bonde doen, met respek, nie genoeg om eie talent ongeag velkleur, te ontwikkel nie. Omdat daar minder subtiel van spanne verwag word om spelers van kleur in die span te hê, word hierdie spelers, soos ander talentvolle spelers, gewoon gekoop en die unies wat hulle ontwikkel het, van hul harde werk gestroop. Selfs die Westelike Provinsie, wat duisende bruin ligaspelers het, koop baie van sy top bruin spelers.

ABSA en ander borge het dus ‘n ruim speelveld waar talentontwikkeling kan plaasvind.

Jeffreys en sy denkgenote speel buite die speelveld. Hulle vertroebel sake deur telkemale ou koeie uit die sloot te graaf, wat beteken die probleem gaan tot die oneindige aangespreek word deur pleistertjies op die kanker te plak. Hulle kan gerus ook dink aan daardie spelers van kleur wat trots daarop is dat hulle op meriete die spanne haal waarvoor hulle speel. Deur Jeffreys en genote se argumente word hul prestasies onder verdenking geplaas.

Om die wêreldmening van destyds bo die internasionale reg en sportkodes se statute te plaas is ‘n onsinnige oefening, en dra niks by tot die ontlonting van die situasie nie. Om vermeende rassisme met rassisme te bekamp…die vyeblare van terme soos regstellende aksie en transformasie, bedek niks as dit deur rassisme gedryf word nie.

Die polarisasie wat ABSA se SMS en die hantering daarna ontketen het, is oorgenoeg bewys dat dit nie reg hanteer is nie, en steeds word die vuur gestook.

Selde het volkseie banke soos Oranjekas soveel gratis publisiteit gekry. Trouens, die storm gaan dit heel moontlik vir Oranjekas nou baie lonend maak om sy kaartstelsel die komende naweek bekend te stel.

зарядку дляФільчаков Олександр Васильович

Maak 'n opvolg-bydrae