praag.co.za

Aardbewings en vloede

Written by

in

Die jongste aardbewingtragedie op die Vrystaatse Goudvelde is ‘n tragiese herinnering dat hierdie area gereeld deur aardbewings getref word, hoewel gelukkig meestal baie lig. Vir mense meer as ‘n kilometer onder die grond moet dit erg wees om so ‘n trilling te voel, en elke keer te wonder of dit nou die einde is.

‘n Kenmerk van die lewe is egter dat, ongeag hoe groot ‘n natuurramp, die lewe aangaan. Nie lank nie, of die kollektiewe geheue van die mens het daaroor gegroei soos ‘n oerwoud wat weer ‘n Mayastad kom terugeis het.

Maar voor dit gebeur is daar ‘n fase waar die mensdom, behalwe dié wat die ergste deur byvoorbeeld lewensverlies geraak is, die humoristiese kant – as daar was – raaksien en weer op hul voete kom.

Die ligter verwysing na aardbewings en vloede in hierdie happie, is nie bedoel om ongevoelig te staan teenoor hulle wat daardeur getraumatiseer is nie. Dit is eerder ‘n ligte gekorswel met hulle, myself inkluis, wat heelhuids anderkant uitgekom het, maar in die proses dalk ‘n groot benoudheid beleef het.

…………………………………………………..

Herrie is, ‘n mens kan maar sê, ‘n ekspert op aardbewings. Amper.

Nie net het Herrie die groot Tulbach-aardbewings beleef nie (weliswaar van ’n entjie weg, in Stellenbosch), maar ook die aardbewing ’n ruk daarvoor waarvan die episentrum by Swellendam was.

Daai ene onthou Herrie goed. Dit was ’n ruk na middernag, en Herrie het om die een of ander wakker gelê en om die een of ander rede gevoel sy kop draai. Skielik het die draaigevoel in ’n geskud oorgegaan, en in ’n ander rigting.

’n Rukkie later tref dit Herrie. Maar daai was mos ’n aardbewing! Herrie vlieg op, en draf deur die huis. Ma was op die vibreermasjioen, en het die aardbewing nie gevoel nie.

Pa was op die onderste verdieping in die studeerkamer besig om aan sy tweede doktoraal te werk. Hy het ook niks gevoel nie. As pa gekonsentreer het, kon ‘n bom langs hom afgaan.

Die volgende oggend, by die skool, doen Herrie navraag, maar loop net ’n erge gespot van die kinders op die lyf. Almal meen Herrie het hom ‘n aardbewing verbeel. Dis mos nie iets van onse wêreld nie. Terug by die huis lui die hoofopskrif van Die Burger dat daar ’n aardbewing was.

Maar toe die Tulbach-skuddings ’n rukkie later kom, het niemand meer niemand gespot nie. Selfs die naskokke maande daarna, het groot kommer vir sommiges, en groot opwinding vir ander veroorsaak.

Een van die redes vir die opwinding was dat ‘n mens hulle kon hoor aankom. Veral by die skool was dit afwisseling, want voor ‘n mens kon sê “mes” het die hele klas buite gestaan. Geen onderwyser het dit durf waag om ‘n klas te probeer terughou nie, want aardbewings is mos gevaarlike goed.

En iets, gewoonlik ‘n vragmotor, hoef maar net effens soos ‘n aardbewing te klink, dan staan die klas buite. Van die onnies kon al slange kou oor die tydige en ontydige ge-klaskamer-ontruimery, maar netnou is dit die ware Jacob en die spul is gemaak bly sit.

By die huis het Herrie sy ontsnaproete gehad. By die balkondeur uit, oor die motorhuis se dak, en spring tot op die grasperk. Dan uithaal vir die sypaadjie.

Nee, nie om weg van die gevaar te kom nie, om in die straat te kan kom. Want dit het ‘n besienswaardigheid afgegee. Dis verbasend hoe baie mense, as daar ‘n aardbewing kom, alles net so los en uithardloop. Selfs mense in die bad of stort – of veral hulle – los alles.

Eers in die straat kry van die huismense hulle met handdoeke en ander toewikkelgoed ingehardloop.

Maar maak nie saak hoe vinnig Herrie in die straat gekom het nie, hy was nooit by benadering die eerste daar nie. Die rede hiervoor was dat ‘n mooi jong Duitse vrou van ‘n huis daar naby wat in die bad was, een keer voor haar man, wat met die handdoek agterna gehardloop het, die straat gehaal het. Die laatslapers het dit heeltemal gemis. Van toe af was die hoërskoolseuns en die groterige laerskoolseuns almal los voor die ander mense in die straat, en naby die Duitse vrou se huis saamgetrek. Wie weet?

Teen die tyd dat die Herrie saam met sy ouers, boet en sus Bloemfontein toe verhuis het, was die naskokke klaar geskok. Die Duitse vrou het toe al lankal geleer om in die verbyhardloop haar japon te gryp, en in die hardloop gang af aan te trek. Dit het nogtans gelyk of die aardbewings geweet het wanneer sy in die bad was.

Jare later het Ma ‘n grondjie, Eldorado, buite Onrus gekoop. Hier was voorheen ‘n fontein, maar het die verkopers vertel, met die Tulbach-aardbewing het hy opgedroog. Op die grond langsaan het daar twee fonteine ontstaan.

Nie lank in die Rosestad nie, drink ons by ouma in haar woonstel tee na kerk. Dis toe Herrie onmiskenbaar daai geluid hoor, en straat toe verkas. Omtrent niemand is saam nie, maar ‘n dag later kom die nuus die aardbewing het darem ‘n woonstelgebou in Welkom, genaamd Tempesthof, inmekaar laat tuimel.

Toe verneem Herrie van Welkom wat so aardbewingwêreld is, en soms voel ‘n mens van die skuddings in Bloemfontein se noordelike en westelike woongebiede.

‘n Slag sit Herrie in ‘n vergadering in Welkom, toe ‘n ligte aardbewing toeslaan. Herrie gaan sit net regop, en maak bietjie grootoog. Herrie is immers ‘n ou hand met aardbewings. Maar die ander mense in die saal kyk soos een man na Herrie, sien die grootoog, en lag: “Buitestander wat niks gewoond is nie!” staan oor hul bakkiesse geskryf.

“Julle is eintlik die mense wat niks gewoond is,” probeer ek met lyftaal weggee. Daar waar ek vandaan gekom het, was hierdie soort aarbewinkies sulke vulletjies, ons het nie eens uit die klas gehardloop nie.”

Gou vind ek uit Welkom is nie al plek in die Vrystaat wat vir aardbewings sorg nie. In die Suidwes-Vrystaat by Koffiefontein rond, is daar ook iets, maar die geoloë raai bietjie wat dit kan wees, want dis diep. Hierdie aardbewings is ook lig, maar moes nogtans verreken word toe die Vanderkloofdam gebou is.

Hoewel ligte aardbewings, kan ‘n mens hulle soms in Bloemfontein se suidelike en westelike dele voel. Waar Herrie bly, in die weste, kan die aardbewings van Welkom af, en van Koffiefontein af, soms gevoel word.

By geleentheid was Herrie ook in Los Angeles en San Francisco, die twee stede wat na bewering net wag om deur aardbewings in puin gelê te word, maar tydens Herrie se besoek was daar niks om oor huis toe te skryf nie.

Nou kan Herrie ook so ‘n bietjie eerstehands van vloede praat, soos dié in ’88. Behalwe dat Herrie se huis se dak die eerste keer begin lek het, het die vloed Herrie nie te veel geraak nie. Wel was Herrie in ‘n vliegtuig wat in Kimberley al die bagasie moes aflaai om weer te kan opstyg, oor die baie water op die aanloopbaan.

‘n Vroeëre vloed het ‘n groter indruk gemaak. Dit was net na die Krugersdriftdam naby Bloemfontein klaargebou was, en die Biologie-onnie gekla het oor sy mielies wat so vergaan van die dors.

Toe begin dit saggies reën, die heel dag, en die heel nag, en weer die heel dag. So ‘n daar dae later trek daar in die reën ‘n donderbui verby, en die dominee meen dis dalk ‘n teken dit gaan ophou reën. Sommer gou was dit duidelik dat ‘n kerkkamp by Glen in die slag gaan bly, want die rivier loop kant en wal.

Hier teen die vierde dag kla die Biologie-onnie sy mielies begin omval. Uiteindelik het dit sewe dae en amper sewe nagte gereën.

Toe dit rugbaar word dat die nuwe dam gaan oorloop, toe reën dit steeds. Baie Bloemfonteiners het dam toe gery vir die skouspel. Die mense wat daar was, vertel sommer met die eerste oorspoelslag is ‘n bees en ‘n likkewaan oor die wal. En hoewel Herrie dit nie self gesien het nie, het dié prentjie helder opgedoen toe Herrie jare later amper met oom Pierrie se seilplank en al oor daai einste wal is.

Die vorige Saterdag nog het Herrie heel lekker op oom Nico se plaasdam reggekom met ‘n seilplank, en toe oom Pierrie vra, is Herrie vol bravade op die seilplank.

Dam in gaan dit te lekker, maar toe Herrie omdraai… Toe gaan kuier Herrie by die karpe en babers doer onder. En skaars is Herrie regop, ruk die wind weer en Herrie gaan soek weer sy visvriende op. Intussen sleep die siedende watermassa al nader aan die wal.

Gelukkig het ‘n bedrewe ou Herrie en die plank kom uithaal.

Herrie se sus het heelwat meer oor vloede te vertel, want sy bly by Kleinbak, en voor dit so droog loop word het, was daar twee vloede daar, en ‘n hele klomp huise onder water. Van haar vriende verskil oor watter vloed nou die ergste was. Die mees betroubare vergelyking is hoe hoog die modderwater die wit wasgoed op die wasgoeddraad bruin gekleur het.

Een ou het net begin regmaak om uit sy oorstroomde huis te trek, toe hy iemand aan die venster hoor klop. Hy gaan kyk. Dis toe ‘n benoude pofadder wat verbydryf, en teen die venster pik. Hy is heel duidelik half teë daarop om skielik bietjie weg te breek see toe.

En al het Herrie van oom Pierrie se seilplank amper ‘n selfmoord-branderplank gemaak, het Herrie darem nie soos oorle Koos aspirasies om as hy eendag in die hiernamaals aanland, vir almal te gaan vertel nie.

Sien, met die ‘88-vloed het Koos les opgesê. Doer in die Wes-Vrystaat het hy nie veel daarvan gemaak toe daar ‘n paar jaar tevore ‘n sandduin tussen twee koppies op sy plaas gaan nesskop nie.

En voor ‘n mens nou die dorre Wes-Vrystaat vlak kyk oor vloedvermoëns, dit kán erg oorstroom word. Met die ’88-vloed het die sersant op Jacobsdal na bewering glo eers al sy eie huisraad, hond, kat, skape en selfs ‘n vark met die polisie se boot na veiligheid geneem voor hy die ander inwoners begin wegry het.

By die siedende Modderrivier het ‘n klomp plaaskindertjies pret gemaak deur aan hul bene aan ‘n pyp oor die rivier te hang, hul koppe rakelings bokant die bruisende water.

Toe die een outjie se bene losglip, en die kannetjie onder die water in verdwyn, het sy maters van hom afskeid geneem.

‘n Ruk later daag hy papnat en bedremmeld soos ‘n spook op. ‘n Ent verder af het boere ‘n net oor die rivier gespan om te kyk wat hulle alles uit die vloedwater geskep kan kry. En was hul verbasing groot toe die knapie teen die net uitgeklim kom.

Maar met daai vloed kry hy toe teenspoed. Tussen die twee koppies loop ook ‘n baster donga-spruitkruising, en dié had selde water, en as daar water in is, ook maar effentjies. Koos meen toe die duin sal ook mooi help dat die donga mooi met spoelgrond opvul. En so aan.

Maar toe kom daai vloed, en die spruit is naderhand ‘n siedende rivier, en dam op en dam op teen die duin. Naderhand sien Koos van HKGK, hier kom groot kommer, want toe kom hy agter sy plaas, opstal en al, lê in ‘n kom, en daai duin lê in die uitgang. Trappie vir trappie begin die water teen sy huis styg, en kom al nader aan die voordeur.

En net toe die watertjie die laaste trappie vat, toe hou ‘88 se vloed op, maar die afloop is nog sterk, en die water styg by daai trappie verby, duim vir duim na die voordeur toe. Maar net toe die eerste golfie huis in spoel, en Koos begin sandsakke nadersleep, toe begin die water daal.

En Koos verwissel kort hierna die tydelike met die ewige.

Daar by die hiernamaals gekom, is sy gedagtes nog vol van die trauma, en hy begin almal vertel. Maar nie lank nie, toe kom hy agter dit gaan hom ‘n halwe ewigheid en ‘n aks neem om vir almal te vertel.

Na bepeinsing is Koos na Petrus toe, en stel sy probleem. Is dit nie moontlik om almal op een slag in die goue stadion bymekaar te laat kom, dat hy sy storie vertel en klaarkry nie?

Petrus stem in, en ‘n paar dae later kan Koos sy storie vertel. Maar net voor hy begin, sê Petrus vir hom: “Koos, moet nou nie aanhou vir die mense kluitjies vertel van jou skaap het leer kameeldoringboom klim nie. Hier is ‘n liegery, selfs van groot skrik, heeltemal taboe. En vandag sal jy jou storie van die vloed moet ken, olie Noag is ook in die gehoor.”

вертолёты на радио управлениитопкарго развод

Comments

Leave a Reply