Mark Scott-Crossley, een van die mans wat ‘n werker se lyk in 2004 in Hoedspruit vir leeus gewerp het, is ‘n vry man, het ‘n woordvoerder van die departement van Korrektiewe Dienste Donderdag gesê.
“Sy laaste dag van parool was die 29ste September, so hy is nou ‘n vry man,” het Sarie Peens, woordvoerder, gesê.
Scott-Crossley se vrylating op parool in Augustus 2008 het ‘n woedende reaksie ontketen.
In dié stadium het Cosatu gegil dat dié wat “ryk en wit” is, voorkeurbehandeling kry.
Scott-Crossley se paroolvoorwaardes het besoeke deur beamptes van Korrektiewe dienste by sy huis en werk ingesluit. Hy moes ook by die departement se kantore rapporteer en gemeenskapswerk verrig.
Hy is aan die einde van 2005 tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die aanranding en daaropvolgende werp van ‘n voormalige werknemer, Nelson Chisale, se lyk in ‘n leeuhok.
Die appèlhof in Bloemfontein het egter in 2007 sy skuldigbevinding op die moord van Chisale verander na ‘n tronkstraf van vyf jaar ná bevind is die staat het nie vroeër bo redelike twyfel bewys dat Chisale nog gelewe het toe hy die hok in gegooi is nie. Die appèlhof het bevind Scott-Crossley was ‘n medepligtige.
Die saak het, toe die moord in Januarie 2004 gebeur het, wêreldwyd opslae gemaak.
Chisale se kopbeen en ‘n paar gekoude bene is al wat oorgebly het nadat sy lyk vir drie witleeus by die Mokwalo-leeuteelprojek gegooi is.
