Die gevare van ‘n de facto-eenpartybedeling

Binne die politieke wetenskap doen ‘n sêding die rondte: “Die demokrasie is ‘n gemors, maar dis die beste gemors wat ons het.”

Dat die oë van die land van vandag af vir die duur van die week op Durban gerig is, is tegelykertyd verstaanbaar en hartseer.

Verstaanbaar, omdat die land se regerende party ‘n belangrike beleidskongres hou, maar hartseer omdat die belangrikheid hiervan bykans alle kenmerke van ‘n de facto eenpartystaat dra. In beginsel kan die land nou, afhangende van watter uiteenlopende denkrigting koning kraai, op koers na ‘n kommunistiese ekonomiese bestel geplaas word.

So ‘n situasie ontstaan wanneer die bevolking se beleids- en selfs regeerkeuses hoofsaaklik binne die regerende party afspeel, en nie tydens verkiesings tussen ‘n veelheid partye soos dit in ‘n grondwetlike demokrasie hoort nie. In Suid-Afrika beteken dit tot ‘n groot mate dat opposisiepartye se rol tot dié van drukgroepe gereduseer word, en waarvan die rol boonop ook gereduseer is omdat die grondwetlike liggame, waarna eens as wigte en teenwigte verwys is, disfunksioneel is of as verlengstukke van die regerende party beskou word.

Ook ander instellings wat veronderstel is om die konsep van veelparty-demokrasie te onderskraag, soos die SABC-raad, se lede word effektief deur die regerende party aangewys.

Voeg hierdie die rol van die Progressive Business Forum wat in effek daarop neerkom dat sakelui wat gedagtes met regeringslui wil wissel, hul hand diep in die sak moet steek vir die voorreg om ministers en selfs hul senior staatsamptenare te kan ontmoet – geld wat in die ANC se verkiesingskoffers gestort word.

Die situasie is verder aangehelp deur ‘n groep opposisielede wat onder die vaandel van “ons sal jul stem wees” ‘n mandaat gekry het om van binne die ANC sekotorale belange te bevorder – en sedertdien ‘n baie stil stem geblyk te wees het. Voeg hierby die aksies van die ANC self om alle stemme binne die sogenaamde “broad church” te ondervang, ‘n uitgesproke doelwit toe mnre. Gwede Mantashe, Darryl Swanepoel en Renier Scoeman kort voor die vorige algemene verkiesing samesprekings met Agri SA se hoofbestuurder, mnr. Hans van der Merwe gevoer het. Nie baie later nie, het beide Agri SA en die TLU SA uit ‘n regeringsgeleide kongres oor landbou gestap waar hoegenaamd nie belanggestel is om na die boere se stem te luister nie, en retoriek as feite opgedis is.

Die oë is ook nog meer op die kongres gerig omdat van die belangrikste demokratiese waarborge, mediavryheid en die reg tot inligting, van vandag af ook formeel onder die valbyl gesleep kan word.

Dat die kiesers die demokrasie faal, skyn nog duideliker te wees deur opnames wat toon dat die premier van die provinsie waar munisipaliteite – aldus die Ouditeur-generaal – onder die swakstes in die land vaar, die ekonomie onder die swakstes is en die howe ‘n rits tenders tersyde gestel en selfs hertoegeken het, die gewildste is.  Ook toon die peiling dat 68 % van die land se mense nou glo dat pres. Jacob Zuma goed vaar, weliswaar ‘n skerp daling vanaf 77 % ‘n jaar gelede.

In die proses om ‘n kiesersblok teen die ANC te vorm, stem baie mense nou ook vir die DA, al het die party se beleid en dit wat hulle self glo min raakvlakke. In die proses ontkieser baie kiesers hulself ideologies.

Die toets of die land se grondwet so ideaal vir ‘n heterogene bevolkingsamestelling is was graag voorgehou word, dat die grondwet so goed is as wat hoog opgegee word, kom nader.

купить воронеж зарядные и пуско-зарядныеОлександр Фільчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae