President Jacob Zuma het ‘n beroep om kalmte en eenheid gedoen te midde van berigte dat buitelanders uit Suid-Afrika vlug uit vrees vir hernieude xenofobiese geweld.
Daar was reeds voorvalle van plakkers in die Wes-Kaap wat teen buitelanders opgetree het.
Zuma het verwys na die xenofobiese haataanvalle in 2008 wat beleggersvertroue geknou het. Hy sê in ‘n verklaring elemente met duistere agendas wat chaos en verwoesting wil sien, moet geïsoleer word.
Regeringsamptenare sê die jongste vrese is ‘n werklikheid, maar oordrewe gerugte wakker vrese van grootskaalse geweld aan.
Oorgrens-vervoeroperateurs word oorval deur buitelanders wat wil terugkeer weens toenemende vrese van xenofobiese aanvalle in Suid-Afrika.
Volgens die Zimbabwiese koerant – die Herald – doen vervoermaatskappye flink sake om Zimbabwiërs en hul besittings terug in hulle land te kry.
‘n Busrit van Beitbrug na Bulawayo kan enigiets van R300 tot R1000 kos. Die rit is duurder indien die persoon nie ‘n geldige paspoort het nie. Die vervoer van huishoudelike goedere soos yskaste en stowe kos ook R1000.
Volgens die operateurs is baie van die reisigers gewone Zimbabwiërs wat die media die skuld gee vir die huidige situasie en sê dat vrese onnodig aangeblaas word.
