President Abdoulaye Wade van Senegal het gerugte deur die opposisie dat hy sy seun, Karim, as president wil sien, ontken.
Hy dring daarop aan dat dit sy seun se reg is om homself verkiesbaar te stel.
“Dit is glad nie my plan om my seun in my plek aan te stel voor ek gaan nie,” het Wade gesê.
“Karim is ‘n burger van Senegal en dit is sy volste reg om homself as ‘n kandidaat vir die presidentskap verkiesbaar te stel.”
Pres. Wade het in Parys met die media gepraat.
Hy en 12 ander staatshoofde van voormalige Franse kolonies het die Bastilledag-vieringe in Parys bygewoon.
Pres. Wade (84) is Senegal se derde president en beklee al sedert 2000 die amp.
Hy het pas aangekondig dat hy homself weer tydens die 2012 presidensiële verkiesing verkiesbaar sal stel.
