Smith word nou wyd geroem as stryder teen apartheid, en niemand stry nie.
Hy is as filantroop voorgehou, en koerantbladsye vol deugde het sy lof besing. Hy is onder meer deur ‘n rubriekskrywer saam met ‘n lys ander sogenaamde verloopte Afrikaners geprys.
Kritiek het egter ook nie uitgebly nie, wat boekdele van die Afrikaner se respek vir ‘n afgestorwene spreek.
Smith was naamlik ‘n klassieke voorbeeld van ‘n negrofilis, en sy uitsprake het sterk herinner aan die uitsprake en optredes van Phillips, Reid en Van der Kemp wat destyds so ‘n groot indruk op die Afrikaner gelaat het dat dit ‘n besondere plek in Retief se manifes ingeneem het.
In wese kom dit daarop neer dat almal wat met ander nuanses na Christelike liefde en geregtigheid kyk as hulleself, net boos kan wees. Sy subjektiwiteit het onlangs nog geblyk toe hy deel van ‘n groep invloedrykes was wat blankes prontuit gewaarsku het om nie die ANC so te kritiseer nie, omdat dit as kritiek op swart vertolk kan word en tot ‘n bloedbad kan lei.
Hierdeur het hy hom gedistansieer van openlike standpunte wat ander, sogenaamde verloopte Afrikaners ingeneem het wat ontnugter geraak het met die korrupsie, grypsug en wanbestuur deur die ANC. Breyten Breytenbach, wat in ‘n stadium vir die ANC in die tronk was, dr. Van Zyl Slabbert, die digter-skrywer Barend Toerien wat verlede jaar oorlede is, en selfs Max du Preez het al gereeld hul monde oor die verval in die nuwe bedeling uitgespoel.
Clive Derby Lewis is aan moord op Chris Hani skuldig bevind. Nico Smith het nie self moord gepleeg nie. Tog is dit nie so eenvoudig nie. Die party wat nou vir Smith ‘n amptelike begrafnis aanbied, is dieselfde organisasie onder wie se vaandel McBride ‘n bom in ‘n Durbanse vrouekroeg geplaas en dood en verminking gesaai het. Dié lys kan veel langer gemaak word.
McBride en Clive Derby-Lewis, wat nie self die sneller op ‘n suiwer politieke teiken getrek het nie, het altwee die doodstraf gekry.
McBride het amnestie gekry en is daarna na ‘n koninklike lewe gelanseer. Derby-Lewis moet egter, selfs as bejaarde modelgevangene, sy lewenslange gevangenisstraf uitdien – of minstens nog lank agter tralies bly volgens die DA.
In ‘n land waar nasiebouers kliphard na versoeningsmiddele soek, word egter dikwels uiters lomp met die realiteite omgegaan.
Om nou ‘n amptelike begrafnis vir Smith te hou en Derby-Lewis die rug toe te keer, herinner aan die stompsinnigheid om groot versoeningsverwagtinge van die sokkertoernooi te koester, maar terselfdertyd appèl aan te teken oor ‘n hof beslis het Julius Malema se singery: Skiet die Boere” kom op haatspraak neer.
Die regering probeer oënskynlik hul bes om ‘n nuwe reeks Slagtersnekke te skep…
