In die beroepsera is prima donnas alledaags. Sterk spanne kry gereeld die kous oor die kop omdat die spelers skynbaar bloot opdaag om hul ruim tjekkies te kom haal. Dit kom in elke sportsoort voor.
Met sokker is dit ook nie anders nie. Met die Konfederasiebekertoernooi is die lae intensiteitspel toegeskryf aan die feit dat baie spelers, en selfs lande, geen premie op die toernooi plaas nie. Maar omdat hulle nie mag weier om deel te neem nie, tensy hulle ook hul reg om aan die wêreldbeker deel te neem kwyt sal wees, kom hulle en doen weinig meer as om vir wedstryde op te daag. Van die minder geroemde spanne met minder sterre gryp egter die geleentheid aan, en verrassing op verassing volg.
Met die wêreldbeker sal dit anders wees, is verduidelik. Dan skop nasietrots ten volle in, en is die lonende klubligas op die agtergrond.
Die skrif moes egter reeds duidelik aan die muur gewees het toe dit met die spelers se aankoms duidelik word hoeveel giere en geite hulle het. Gerekende hotelle moes hierdie eietydse monarge soos…wel, konings behandel en met selfs die mees onredelike geite verlief neem.
Die toernooi het die land miljarde rande gekos. Presies hoeveel, sal eers later blyk. Terwyl die bedrae wat aan stadions gespandeer word redelik bereken kan word, en die infratsruktuurkostes in elk geval eerder nou as later aangegaan moes word, is dit moeiliker om te bereken hoeveel individuele entrepreneurs en individue gespandeer het. Sommiges het duidelik reeds dividende gesmaak, ander gaan baie lank indien ooit neem om hul kostes te verhaal. Selfs die prostitute wat spesiaal na die land gekom het, kla dat hulle maar kaal daarvan afkom. Produktiwiteit, onder meer deur werksure wat weens sokkerkyk verlore gaan, se koste is ook astronomies.
Teen hierdie agtergrond is dit waarskynlik nie te veel gevra dat die spelers ook hul kant bring nie. Gelukkig gebeur dit plek-plek, maar daar is ook genoeg gevalle waar spanne duidelik lyf weggesteek het. Frankryk, wat in die vorige toernooi se eindstryd gespeel het, is reeds huis toe. Die huidige wêreldkampioen, Italië, loop gevaar om vandag dieselfde lot te beurt te val. Engeland het net-net die valbyl misgeloop.
Intussen bou Fifa ‘n algaande slegter reputasie by die publiek op. In die hoofartikel van vandag se Volksblad word Fifa selfs van ‘n eietydse kolonialisme beskuldig. T-hemde wat ‘n week gelede hul verskyning gemaak het met die woorde “Fick Fufa” daarop verklap heelwat van die frustrasies.
Die ander kant van die munt is natuurlik dat Fifa geoefen is met die aanbied van toernooie van hierdie omvang, en Suid-Afrika nie. Trouens, as die ritse blapse met die aanbied van die Wêreldkriekettoernooi in ag geneem word, kan Fifa nie verkwalik word dat dit nie kanse waag nie.
Die teleurstelling by egter dat Suid-Afrikaners en buitelandse besoekers wat baie spandeer het, gereeld met afskeepsokker opgesaal gesit het. Die valbyl val nou vir die swakkes en luies, maar sommige stadions se geleentheid om sokker te sien deur vingertrek-spanne is haas verby.
