‘n Dag voor die aanvang van die wêreldsokkertoernooi in Suid-Afrika verskyn ‘n ellelange artikel oor die rektor van die Vrystaatse Universiteit, Jonathan Jansen, in Trouw, Protestantse koerant in Nederland. Die opskrif lui: “Nieuw icoon van de verzoeningsleer.”
Die artikel verwys onder meer na die rol wat prof. Jansen gespeel het om die “Reitz vier” weer toe te laat om aan Kovsies te studeer. Dit haal emeritus aartsbiskop Desmond Tutu aan wat hom as ‘n waardige vaandeldraer van die Waarheids- en Versoeningskommissie beskryf.
‘n Lang deel word aan Jansen se boek, ‘Knowlegde in the blood’ afgestaan.
Die artikel word ingelui deur die plofbare situasie in die land na die moord op mnr. Eugene Terre’Blanche, AWB-leier, en die TV-beelde van “boze blanken” wat roep om wraak. Dit was aan die vooraand van die sokkertoernooi, en die wêreld het die hart vasgehou.
Dié beeld word voorgehou as verduideliking dat rasseverhoudinge in die land, sestien jaar na Nelson Mandela se vrylating (hy is in werklikheid heelwat langer gelede vrygelaat), nog nie genormaliseer is nie.
Byna vreemd vir Trouw is die artikel nie oral heeltemal suiwer met feite nie, maar darem ligjare verwyder van die absolute twak wat soms in die buitelandse pers opgedis word.
Jansen wat deur so ‘n groot koerant so geloof word, is darem seker nuus. By die Volksblad is egter geen reaksie nadat die foto aan hulle gestuur word nie.
Goed, maar die Kovsies se Skakelburo sal seker belangstel. Die waarnemende direkteur van Strategiese Kommunikasie antwoord nie eens met ‘n dankie of iets nie.
Jansen reageer met ‘n beskeie dankie, en ‘n opmerking dat hy nie daarvan bewus was nie, nadat die artikel aan hom ook gestuur word.
Selfs diegene wat geen aanhangers van prof. Jansen is nie, beskou die feit dat so ‘n artikel in ‘n vername en gerespekteerde koerant verskyn het as nuuswaardig, maar die plaaslike media nie? Of vind die verslaggewers dit nou moeilik om Nederlands te lees? Of…behoede ons, weet hulle nie meer waar en wat Nederland is nie?
