Met die Bulle se huidige opmars na die Super 14 het lawwe Lulu Pretoria se naam stilletjies na Tshwane probeer verander – ‘n stap wat, voorlopig minstens, omgekeer is.
Met die oë van die wêreld nou, op die vooraand van die Fifa-toernooi vierkantig op die land, word ‘n ANC-jeugliga-voorlegging oor die nasionalisering van myne en banke goed deur die ANC in die parlement ontvang.
Die Noorweegse regering lê ‘n diplomatieke klag teen die omstrede Jimmy Manyi omdat hy tydens ‘n amptelike vergadering sy eie sakebelange probeer bevorder het. Hierdeur plaas Manyi homself nie net op twee stoele met botsende belange nie, maar minstens drie, waarvan minstens twee teen landsbelang indruis – terwyl hy as DG van Arbeid minstens vierkantig landsbelange behoort te dra.
Intussen word die aanduidings al hoe sterker dat die konsolidering van die konsep, The King can do no wrong, vir pres. Jacob Zuma vorder. Die DA kla onder meer dat die president weier om parlementêre vrae oor sy versuim om belange te verklaar, te beantwoord. Vroeër het Zuma se regspan in verweer op ‘n hersiening van die besluit om ‘n rits kriminele aanklagte teen Zuma te laat vaar, aangevoer die Suid-Afrikaanse president is, soos die Franse en Amerikaanse presidente, vir die duur van hul bewind immuun teen vervolging is. In werklikheid is net die Franse president immuun, en soos dit onlangs geblyk het, toepaslike vervolging vind wel plaas na die bewindstydperk. Dit word nie onder die mat ingevee nie.
Die president deel ‘n landelike gemeenskap mee dat die voorvadergeeste mense sal siek maak wat van die ANC af dros. Nog voor dit behoorlik opslae kan maak, word skadebeheer toegepas en verduidelik dat dit basies as grap bedoel is. Dit het egter ‘n tradisionele beesslagting en allerlei voorvadergeeste-rituele in Soccer City voorafgegaan. Oor laasgenoemde is daar ‘n vreemde media-stilte. Dit kom ook kort na Zuma weer die Allerhoogste as lojale ANC-lid ingespan het.
Allerlei verklarings word gebruik om te verduidelik dat die misdaadsituasie hier nie so erg is soos wat die statistiek dui nie. Terselfdertyd word regse aktiwiteite egter aan die groot klok gehang – waarskynlik in ‘n poging om die sokker-euforie te gebruik om die regse sentimente te marginaliseer. In die praktyk dra dit egter waarskynlik meer tot polarisasie by.
Is dit ‘n geval van ‘n regering wat strategies lomp is wanneer die oë van die wêreld daarop gerig is, en nie besef hoe skadelik nasionaliseringspraatjies is nie? Is dit ‘n geval van ‘n regering wat meen dat die land die luukse het om ‘n muishondstatus te oorleef soos Hugo Chavez noiu doen, en Ghaddafi en Fidel Castro lank gedoen het? Chavez en Ghaddafi het egter die luukses van olie, en Castro is deur die voormalige USSR gerugsteun. Malema meen China sal instap en kom deel as myne genasionaliseer is.
Of…benut die regering nou die euforie blatant om sy penne ten opsigte van grondhervorming, regstellende aksie, nasionalisering en vele meer ‘n ent verder in te slaan?
Presies wat gaan die karakter van die land wees na die euforie bedaar het?
