Die minister het pas via ‘n artikel in Rapport die wittebrood met georganiseerde landbou opgeskort. Dit is egter haar begrip oor feite en verdigsels wat die weg vir konflik berei.
Die eerste struikelblok is die persepsie dat georganiseerde landbou en kommersiële boere vir die slakkepas van grondhervorming geblameer moet word. Joemat-Pettersson beweer nog net 5 % van die 30 % wat teen 2014 oorgedra moet word, is reeds oorgedra. Georganiseerde landbou ontken dit, en staaf hul argumente met syfers.
Joemat-Pettersson het vir haar ‘n yslike lat gepluk deur terug te val op die argument dat swart, bruin en Indiërboere in 1994 net 13 % van die land se oppervlak kon besit, terwyl wit boere die ander 87 kon besit.
Bruin landelike gebiede wat saam ‘n baie groot oppervlak behels, het egter deel van die 87 % uitgemaak, soos ook groot natuurresrvate, staatsgrond soos staatsplase en weermaggrond, stedelike oppervlaktes en vele meer. Boonop kon, en het, swart mense reeds sedert 1991 voormalige wit plase opgekoop.
TLU SA wys daarop dat die Ontwikkelinsbank in 2001 reeds bevind het dat die regering en anderskleurige boere saam 56 % van die land se oppervlakte besit. Georganiseerde landbou dring dus al lank op ‘n grondoudit aan, terwyl die regering vierkantig hierteen vasskop, en met sy syfers wat eerder op retoriek as feite geskoei is volhou.
Onlangs was nog net 13 persent van die plase wat vir restitusie in die staatskoerant gelys is, oorgedra. Die departement van Grondsake het verskeie sake hieroor verloor, hoofsaaklik omdat die amptenare geweier het om kennis te neem van goed nagevorste inligting wat bewys dat die eise ongeldig is. Vrystaat landbou waarsku dan ook dat talle van die eise in die Ladybrand / Clocolan-omgewing is, en dat dié instansie oor die middele beskik om die onregmatige eise teen te staan.
Die volgehoue persepsie wat geskep word dat boere en georganiseerde landbou die grondhervormingsproses weens teenkanting rysmier, word nie net ontken nie, maar die regering word vir die vasklou aan die persepsie verkwalik, en wys daarop dat Landbou die gevolge in die vorm van plaasaanvalle dra. ‘n Literatuurstudie toon ook gou dat alle landbou-organisasies al lankal en soms uit die staanspoor hulp aan die regering aangebied het, soos met mentorprogramme.
Landbou reageer ook skerp op planne vir versnelde grondhervorming, soos beoogde onteiening, nasionalisering deur landbougrond as nasionale bate te verklaar en die onlangse 40 % swart aandeelhouding. Landbou is ook ongelukkig oor van die redes waarom meer wit grond oorgedra moet word. Van hierdie redes, soos dat swart landelike armoede bekamp moet word deur die uitdeel van lappies grond wat landbou-ekonome as die teelaarde vir armoede beskou, word aan die voed van populistiese verwagtinge eerder as die voed van die nasie toegeskryf.
Die omvang van mislukte boerderye op oorgedragte plase, skep ook min vertroue in die regering se obsessie dat die pas van grondhervorming versnel moet word.
Intussen speel die minister met vuur deur die Zimbabwe-grondgryp as afdreiging teen die landbou te hou. Dit word nie goed deur die boere ervaar nie.
Die minister het die wittebrood opgeskort, maar sy kan haar kort voor lank in die egskeidingshof – in die vorm van hofsake ten planne – bevind. En tensy sy begin om die korrekte syfers eerder as historiese ANC-retoriek te gebruik, sal sy sleg daarvan afkom.
Koppestamp oor grondhervorming kom na minister “wittebrood” met georganiseerde landbou opgeskort het
Te veel mieliepap mors op die grond terwyl rolspelers sorgum met koring vergelyk.
So kan die chaos in die grondhervorimingsprogram waarskynlik ten beste beskryf word.
Terwyl daar ‘n obsessie by die regering is om nog ‘n groot hoeveelheid grond in wit besit na swart eienaars oor te dra, betwis verskillende rolspelers mekaar se syfers. Die regering meen ‘n stywe bult lê voor voordat die eerste mikpunt van 30 % teen 2014 behaal is, terwyl ander meen die 30 % persent is lank reeds verbygesteek. In ‘n onlangse artikel in Rapport het die Minister van Landbou, Tina Joemat-Pettersson, egter gesê nog net 5 % van die beoogde 30 % is reeds oorgedra.
Ander bronne lui dat daar wel ‘n voeteslepery by die regering is oor grondrestitusie. Teen 2009 was nog net 13 % van die plase wat in die staatskoerant as restitusie-eise gelys is, oorgedra.
Die regering skop soos ‘n steeks donkie daarteen vas om die stang vas te byt en ‘n grond-oudit te doen wat alle onsekerheid uit die weg sal ruim.
Dit word in die praktyk dikwels weergegee asof blanke boere in 1994 saam 87 % van die land besit het, insluitend die voormalige tuislande, bruin landelike gebiede, nasionale parke, staatsgrond en ruimtes wat deur stede, paaie, spoorlyne en damme opgeneem word. Boonop het heelwat grond voor 1994 reeds in swart besit gekom na die groepsgebiedewet en bevolkingsregistrasiewette in 1991 opgehef is. Ook burgers van buurlande soos Lesotho het grond in Suid-Afrika gekoop.
Dit is wanneer hierdie oppervlaktes by landbougrond in wit besit afgetrek word dat die prentjie baie anders lyk.
Mnr. Ben Marais, president van TLU SA, stel dit so: “Die Minister wil die boere beskuldig dat hulle die oorsaak is dat daar nog nie 30% grond aan swartes oorgedra is nie, omdat hulle die gewillige koper, gewillige verkoper-beginsel gebruik het. Die staat beskik reeds tussen homself, Swartes, Kleurlinge en Indiërs oor 56% van die grond in Suid-Afrika, volgens demografiese studie vir die Ontwikkelingsbank in 2001. Steeds stu hy voort op inhalige wyse om nog meer grond skynbaar verniet te wil bekom. Dit was en is vir boere onaanvaarbaar. Natuurlik sal boere leun op die vryemarkstelsel om ‘n behoorlike waarde vir hulle grond te kry. TLU SA het bowendien ‘n redelike vermoede dat die regering in elk geval nie genoeg bekwame swart boere kon kry om op die grond te plaas nie. In terme van eie regeringsuitsprake het ongeveer negentig persent van die swart bemagtigingsprojekte in landbou misluk.”
Ook Vrystaat Landbou koop nie die regering se aansprake oor hoe onwillig boere is om saam te werk, of oor hoe min gerond al oorgedra is nie. In 2009 het VL, by monde van sy hoofbestuurder. Henk Vermeulen, die saak so gestel: “Kwaadwillige stories word versprei dat boere nie grondhervorming steun nie. Landbouers, kommersiële boere en opkomende boere moet bemagtig word om voort te kan gaan om te boer. Vrystaat Landbou (VL) het 104 jaar lank verskillende regerings se aanslae op die landbou deurstaan en is gereed om die huidige aanslae, wat die voortbestaan van boere met onder meer onteieningswette bedreig, te staal. Mentorskap en opleiding vir swart ekonomiese bemagtiging in die landbou is ‘n noodsaaklike komponent waarby georganiseerde landbou betrokke moet bly.’n Ordentlike databasis oor grondhervorming en die hoeveelheid hektaar wat reeds aan opkomende boere oorgedra is, bewys politici se stellings dat boere teen grondhervorming is, is verkeerd. Die sowat 200 plase wat in die distrik Ladybrand reeds oorgedra is, bewys dat aantygings oor ‘n te stadige grondhervormingsproses nie water dra nie. Meer as 49 000 ha in die Vrystaat is reeds vir grondhervorming oorgedra. Grond wat wel deur boereverenigings se lyste van bereidwillige boere wat grond vir verkope aan onder meer grondsake vir grondhervorming beskikbaar gestel is, belooop sowat 12 000 ha, waarvan niks gekoop is nie.”
Pas het Joemat-Pettersson, aangedui dat altesaam 98 plase wat sedert 1994 aan swart eienaars in die Vrystaat oorgedra is, onproduktief staan. Georganiseerde landbou gee onwilligheid om van Vrystaat Landbou se mentorskap gebruik te maak, grootliks die skuld.
‘n Afvaardiging van die Vrystaatse Wetgewer het tydens ‘n toer na oorgedraagde plase gevind die meeste nuwe eienaars het geen aspirasies om op die grond te boer nie. Hulle beskou dit as ‘n woonplek waarop ‘n paar beeste loop, en spandeer bedags hul tyd by hul werk in stede of in dorpe.
Met Afrika wie se kosmandjie-vermoë die afgelope 40 jaar met ‘n vyfde afgeneem het, is die omskepping van produktiewe plase na onproduktiewe landbougrond nie ‘n opsie nie.
In ‘n onlangse restitusiesaak in Noordwes is ‘n eis afgewys. Die grondeisehof het bevind dat die gemeenskap wat aanvanklik van die grond verwyder is, voldoende kompensasie, waaronder soortgelyke grond, ontvang het. Die hof het egter ook uitgewys dat die gemeenskap nie in die vermoë is om produksie op die grond wat geëis is vol te hou nie. In die betrokke saak het die Departement van Grondsake laat blyk dat bykans alle grondhervorming in die provinsie misluk het.
Nogtans dwing die regering om maniere te vind om swart eienaarskap op landbougrond te verhoog, en dreig gereeld dat dit ten doel het om te voorkom dat ‘n Zimbabwe-tipe situasie hier ontstaan. Me. Joemta-Petterson druk die plaaslike potensiële drang uit as iets wat die Zimbabwe-situasie na ‘n Sondagskoolpiekniek kan laat lyk.
Haar jongste voorstelle behels dat blanke boere 40 % swart aandeelhouding in hul landboubedrywighede bekom. Hierdie voorstel volg nadat verskeie kere aangedui is dat artikel 25 van die grondwet ‘n struikelblok bied om onteieningswetgewing van stapel te stuur.
Artikel 25 is egter nie net ‘n gewone artikel in die grondwet nie, maar deel van die handves van menseregte, en is veranker in verskeie verdrae en die volkereg waarvan Suid-Afrika deel uitmaak. Selfs die vereiste meerderheid om die grondwet te verander gaan nie
Tussenin is die gedagte ook geopper om landbougrond as strategiese bate te verklaar, wat min verskil van blatante onteiening, soos wat met mineraleregte (ingesluit bv ondergrondse water) gebeur het. ‘n Groenskrif hieroor sou in April vanjaar die lig gesien het.
Terwyl die regering hamer op groter swart eienaarskap as eerste prioriteit, is die landbou se fokus op ekonomiese oorlewing, en ‘n veilige, stabiele omgewing te midde van klimaatsverandering.
Joemat-Pettersson waarsku dat swart verwagtinge oor grond die Zimbabwiese grondgryp na ‘n Sondagskoolpiekniek sal laat lyk. Georganiseerde landbou blameer die ondoeltreffendheid van die Departement van Grondsake. Selfs wyle Dirk du Toit, het as adjunk-minister by geleentheid ‘n beroep gedoen dat georganiseerde landbou vertoë rig vir ‘n klagtedirektoraat in sy departement omdat sy eie kantoor nie met die klagtes kan voorbly nie.
Die Grondeisekommissie het ook in die onlangse verlede verskeie hofsake verloor omdat hulle geweier het om van bewyse kennis te neem dat eise ongeldig is. Vrystaat Landbou het ook daarop gewys dat grondrestitusie-eise in die Ladybrand / Clocolan-omgewing ongeldig is, en dat sy organisasie oor die regsmiddele beskik om dit teen te staan.
Boonop is Agri SA onderweg na die Menseregtekommissie met gevalle waar Grondsake in grondhervormingsgevalle, die waardasieprys vir verkopers geheim gehou het. Die boere aanvaar dan die aanbod wat hulle meen in ooreenstemming met Grondsake se waardasie was. Agterna blyk dit dat hulle hul grond ver onder die markwaarde vervreem het.
Boere voer ‘n verskeidenheid redes aan oor waarom hulle hul grond onder markwaarde verkoop het. Sommiges beweer viktimisasie, en ander weer dat hulle van swak regsadvies bedien is in ‘n tyd toe die regering aangedui het dat hy onteieningswetgewing rondom restitusie ook na grondhervorming wou uitbrei.
Na ‘n belowende begin het Joemat-Pettersson se glans gou verdof, en nou het sy verklaar die wittebrood is verby. Boonop het sy onrealistiese verwagtinge herhaal soos dat landelike armoede deur klein plasies en bestaansboerdery aangespreek moet word. Dit lyk eerder of die regering met die uitdeel van sub-ekonomiese eenhede populisme wil voed, eerder as die nasie met kos. Joemat-Pettersson se jongste gedagte is dat wit boere 40% aandeelhouding aan swart mense bied. Georganiseerde landbou het reeds op die onwerkbaarheid hiervan gewys.
Sy het terselfdertyd in haar Rapport-artikel dit duidelik gemaak dat sy haar wittebroodstydperk met georganiseerde landbou opskort. Hierdeur skep sy die indruk dat die georganiseerde landbou in die verlede halsstarrig en onredelik was – iets wat duidelik blyk onjuis te wees met selfs die geringste literatuurstudie. Die stem van redelikheid blyk byvoorbeeld uit ‘n standpunt wat TLU SA reeds in 2008 gestel het: TLU SA bly daarop ingestel om vanuit die beginsel van privaat eiendomsbesit die regte en belange van die kommersiële landbouer met beskikbare middele te bevorder en te beskerm. Waar grondeise die reg van privaat eiendomsbesit in die gedrang bring, onderneem TLU SA om met die nodige verantwoordelikheid wyses te vind om reg en billikheid te laat geld. Wederregtelike aansprake op kommersiële landbougronde word bekamp en word gesorg dat die proses van grondeise, AgriSEB en besit van landbougrond nie tot die nadeel van die kommersiële landbouer en volhoubare landbouproduksie sal wees nie.”
Of dr. Pieter Mulder as adjunk-minister genoeg invloed gaan hê dat gesonde verstand ook nog nes kan skop, sal net die tyd leer.
