Noodlyn werk, skerm polisie

Die polisie in KwaZulu-Natal het Dinsdag ontken dat die sentrale polisiestasie se noodlyn vir sowat 36 ure nie gewerk het nie nadat die beheerkamer oorspoel het.

Volgens lt. kol. Vincent Mdunge, polisiewoordvoerder, het ‘n watertenk op die 16de vloer gebars, maar het dit nie die noodlyn geaffekteer nie.

“Lede wat in die beheerkamer gewerk het is na ‘n ander vertrek verskuif. Die 10111 nommer werk 24 uur per dag,” het hy gesê. 

“Ons kon met lede van die publiek kommunikeer en ons radio’s het ook gewerk.”

Sizwe Mchunu, die DA se gemeenskapsveiligheidswoordvoerder, het Dinsdag gevra dat daar ondersoek ingestel moet word na die stasie se noodplan na aanleiding van gerugte dat die noodlyn vir sowat 36 ure nie gefunksioneer het nie. 

“Wanneer mense 10111 gebruik is dit gewoonlik ‘n saak van lewe of dood,” het hy in ‘n verklaring gesê.

“Ons moedig owerhede aan om ‘n noodplan saam te stel sodat oproepe steeds kan deurkom indien daar iets fout is met die polisie se noodlyn.”

100 fun gamesФильчаков Александр Васильевич

Maak 'n opvolg-bydrae