Dié wetsontwerpe is in oorleg met die regbank gefinaliseer. Die administrasie van die howe sal voortaan deel uitmaak van die kantoor van die hoofregter.
Jeff Radebe, minister van justisie, het die aankondiging Woensdag tydens sy begrotingsrede gedoen. Hy het bevestig dat omstrede klousules, wat skerp kritiek van regsgeleerdes ontlok het sedert dit die eerste keer in 2004 ter tafel gelê is, in die wetsvoorstelle geskrap is.
Sekere klousules het ongelukkigheid veroorsaak aangesien dit bykomende magte aan die uitvoerende gesag oor die regsgesag sou gee. Die minister van justisie, ‘n politieke aanstelling, sou daarvolgens die finale sê oor howe se administrasie gehad het.
Radebe het benadruk dat die onafhanklikheid van die regbank deur die nuwe wet beskerm sal word.
“Die grondwethof sal die land se hoogste hof wees en die hoogste hof van appèl die enigste appèlhof; die hoofregter sal hoof van die regbank wees en sy kantoor sal na ’n volwaardige hofadministrasie uitgebrei word. Die regbank sal ook sy eie hofreëls bepaal,” het hy gesê.
Oor enkele kwessies ontbreek daar egter steeds konsensus tussen die ANC en die regbank oor die bepalings, het Radebe gesê. Hy het bygevoeg dat hoofregter Sandile Ngcobo bedank moet word vir sy skitterende leierskap in die voortsetting van die werk van sy voorgangers, hoofregters Arthur Chaskalson en Pius Langa.”
