Die minister van Arbeid, mnr. Membathisi Mdladlana, het ‘n ondersoek geloods by die Aurora-mynmaatskappy omdat geen betalings vir werkloosheidversekering ontvang is nie. Dit volg nadat mnr. Pieter Groenewald, parlementslid en leier in Noordwes van die Vryheidsfront Plus, ‘n vraag in die parlement hieroor gevra het.
In antwoord op die vraag het Mdladlana erken dat geen gelde ontvang is nie en dat ondersoek gedoen word in terme van die voldoening aan die vereistes van die Werkloosheidversekeringswet en die Werkloosheidversekerings Bydraewet.
“Die erkenning van die minister dat geen werkloosheidgelde oorbetaal is deur Aurora nie, skep ‘n oortreding van die versekeringswette deur Aurora. Daar sal streng teen Aurora opgetree moet word en ek sal dit monitor. Dit is onaanvaarbaar dat maatskappye toegelaat word om groot bedrywe soos mynbou te bedryf waar duisende werknemers betrokke is, maar nie in staat is om hulle werknemers te betaal nie.
Daar kan nie uitsonderings vir swart bemagtigingsmaatskappye soos Aurora gemaak word nie. Werknemers is afhanklik van ‘n werk om vir hulle gesinne te sorg en indien hulle werkloosheidsversekering nie oorbetaal word nie, skep dit ‘n krisis vir broodwinners,” sê mnr. Pieter Groenewald (LP), provinsiale leier van die Vryheidsfront Plus.
“Ek het ook ‘n vraag aan die minister van Mynbou, me. Susan Shabangu, gevra en wil weet of haar department verseker het dat die Aurora-mynmaatskappy in staat was om ‘n myn te bestuur vir sy bedrywighede in Orkney en Grootvlei met die toestaan van hulle lisensie. Indien nie, wil ek weet hoekom nie, en indien wel, watter kriteria toegepas was en in watter mate is aan die kriteria voldoen. Ek wag nog vir die minister se antwoord,” het Groenewald gesê.
casinos noАлександр Фильчаков