Nie een van die twee nie, aldus Verslaggewers sonder Grense se lys van die 40 voorste verkragters van persvryheid, wat ter herdenking van mediavryheidsdag bekend gemaak is.
Trouens, koning Mswati III van Swaziland vaar swakker as Mugabe, en behaal onderskeidelik die 7de en 8ste posisies. Die Noord-Koreaanse diktator is ook hoog op die lys.
Die lys, of eerder die volgorde van die lys, verskil effens van die persvryheidsindeks, hoewel Eritrea op al twee lyste die houtlepel verower. Die rede is omdat dit op die “roofdier-indeks” nie altyd die staat of regering is wat die swart sterretjie kry nie, maar subversiewe groepe. In Spanje is dit byvoorbeeld die Baskiese terreurorganisasie, ETA, wat die lys haal. ETA se bande met dwelmkartelle en militante organisasies (gewoonlik in Venezuela gesetel maar teen Columbië gemik) het saam die lys gehaal.
Verskeie van Suid-Afrika se vriende, soos Kuba, Rwanda, Tunisië en die Palestynse gebiede se regeringshoofde haal ook die lys.
Tot dusver vanjaar het 9 joernaliste in die uitvoering van hul pligte hul lewens verloor, en is 168 joernaliste agter tralies. Altesaam 120 webwerf-skrywers word ook in gevangenisse aangehou.
