Selfs die sanger MD Greyling, wat die aand in Le Cafe Des Sports in Ellisras opgetree het, is deursoek.
“Dit is nie asof ek ’n vuurwapen of dwelms aan my gehad het nie. Ek het maar net gesing.”
Die Afrikaners wat verlede Vrydagnag in die kroeg deur die polisie vasgekeer is, het gereageer deur Die Stem uit volle bors te sing. Later het De la Rey opgeklink.
Die Suid-Afrikaanse volkslied het die aanvoerder van die sowat sestig polisielede kennelik dwars in die krop gesteek en hy het opdrag gegee het dat almal opsluit deursoek moet word.
Die optrede is volgens die polisie deel van ‘n spesiale operasie wat geloods is.
Die ontstelde polisiebevelvoerder het by aanhoor van die volkslied gebulder dat die Afrikaners in die kroeg “buite beheer” is.
’n Plaaslike landdros, wat in die kroeg was ten tye van die voorval, het gesê die polisie mag nie sonder ’n lasbrief kliënte deursoek nie.
Daarna het die polisiebevelvoerder aan die eienaar en die landdros geskree: “Fuck you and fuck the judge,” en het sy manne opdrag gegee om die mense vir dwelms en wapens te deursoek.
Steve Geldenhuys, die kroegeienaar, het ’n klag van crimen injuria teen lt.kol. Shokwane gelê nadat dié in sy gesig geskree het: “Fuck you.”
Oogetuies sê die polisie was duidelik op soek na konflik.
