‘n Vroeëre skikking tussen Unita en die MPLA het in die slag gebly toe MPLA-vegters met hul houding die indruk geskep het dat die MPLA die gewapende stryd gewen het. Kort voor lank was Unita weer in ‘n gewapende stryd met die MPLA gewikkel wat eers beëindig is toe die Unita-leier, Jonas Savimbi, deur ‘n sluipskutter uit die weg geruim is.
Bismarck, die man van bloed en yster, het as Pruisiese kanselier ook die kuns geken om met vredesluiting die verdrag, selfs met ‘n deeglike afgeranselde opponent, so te sluit dat die opponent nie verneder is nie. Bismarck het geglo ‘n vernederde vyand sal ‘n vyand bly.
Gister is Vryheidsdag gevier.
Regeringswoordvoerders het klaarblyklik baie moeite gedoen om inligting te bekom om as vordering oor die afgelope 16 jaar aan te bied. Meestal was daar egter ook ‘n erkenning dat daar nog baie gedoen moet word. Oor die agteruitgang wat op talle terreine ingetree het is verstaanbaar nie groot gewag gemaak nie.
Pres. Jacob Zuma het verskeie doelwitte in sy toespraak gemeld, deur onder meer te verwys dat Suid-Afrika ‘n volk (people) verteenwoordig. Dat hy die verkeerde term gebruik het – die woord nasie sou nader aan die kol gewees het – is moontlik aan gewone onkunde of oormatige idealisme te wyte.
Hy verreken skynbaar nie die impak van jong losbekkiges wat daarop roem dat hulle ‘n oorwinning oor die vyand behaal het, toe hulle in werklikheid nog bloedjong snotneusies was nie. Hy verreken nie die reaksie van ander jong mense wat ook nog bloedjonk, of nog nie gebore was nie, en dus geen aandeel in 1994 se gebeure gehad het nie, maar nou verneder word asof hulle verslaan is.
Terwyl Zuma geroem het op die opposisielede wat ook aan sy Vryheidsdagvoeringe deelgeneem het, is ander opposisieleiers by hul saamtrek by die Grondwethof deur ANC-ondersteuners begroet wat die “Skiet die Boer”-lied aangehef het.
As Zuma nie sy eie mense tot orde roep nie, gaan van sy “one people” nie eens ‘n “one nation” oorbly nie.
