Terwyl Helen Zille Dinsdag met Vryheidsdag toeskouers buite die konstitusionele hof toegespreek het, het betogers met ANC-vlae en T-hemde opgedaag by die byeenkoms.
Zille het in haar rede gesê Suid-Afrika se huidige staatshoof bedreig die Grondwet. Sy het egter nagelaat om te verwys na die DA se ondersteuning vir ongrondwetlike naamsveranderinge of ewe ongrondwetlike beleid van oop grense wat dienslewering onder toenemende druk plaas.
Lede van die DA en OD het by die hof saamgetrek. Cope, wat ook genooi was, het nie opgedaag nie.
Hardhandige polisieoptrede teen die ANC-groep het daartoe gelei dat die swart ondersteuners die gewraakte lied “Ayesab’ amagwala”, waarin die woorde “Dubul’ iBhunu” (Skiet die Boere) voorkom, begin sing het.
Sihlwele Myeki, die leier van die ANC-ondersteuners, het gesê DA-lede het hulle uitgetart waarna hulle “Ayesab’ amagwala” begin sing het.
