Maar soos my standard vier onderwyser altyd gesê het, as hy die luies onder ons wou aanpor, “ Nog ‘n bietjie slaap, nog ‘n bietjie sluimer. Manne die Filistyne is op ons.” Dan het die luies sonder om ‘n oog te knip verder gedroom en gedruip. Dit lyk my sommiges van ons is ook maar so. Hoe meer daar onder hulle gemoor word hoe dieper bêre hulle die wapens en hoe lekkerder slaap hulle. Totdat hulle noodgedwonge wakker skrik met ‘n loop teen die kop.
Ons leef in ‘n eeu van soveel tegnologiese wonders wat ons kan beskerm en waarsku teen die binnedringing van ons gebied. Ons het van die beste bewegingwaarnemingstoerusting, CCTV-stelsels en hope ander goed wat kan gemonitor word en wat lewensgetroue weergawes kan gee wat op jou perseel aangaan al is jy ook nie eers tuis nie. Boere het mense op hul plase wat ook teen die aanvallers moet beskerm word. Kry betrokkenheid en mobiliseer en beheer die grond, hoekom nog slaap en sluimer en jou eie familie en mense se lewens in gevaar stel?
Ons weet mos wat is die patetiese modus operandi van die vyand, en ons weet wie hulle is. Dit maak dit soveel makliker om daadwerklik op te tree en die probleem aan te spreek en ‘n oplossing te vind. Baie boere het jare terug al risko-analises gedoen, die moontlikheid van verlies geïdentifiseer en met impakstudies opgevolg. Dit is trouens ‘n onnoemenswaardige uitleg om jou mense en plaas te beskerm. ‘n Lewe is meer werd as geld, maar geld kan ‘n lewe koop.
Nadat ek in die SAW gedien het was ek sederdien in die veiligheids- en beskermingsbedryf. Omdat ek een van die “regses” en “negatiewes” is wat hierdie golf vir meer as twintig jaar sien kom het, ag ek myself gelukkig dat ek nog nie weer kon sluimer of slaap nie. Ons help gereeld boere om risiko-analises te doen en teenwigte in plekke te bring, met baie goeie resultate. Baie van my destydse linkse vriende wat gehelp het om die nuwe regering in plek te kry is vandag so regs dat ek nou ontuis links is, linkser as die ANC.
Om jou en ander se lewens te beskerm is in sekeres se oë rassisties. Water van my rug af, want ek het nie iemand wat vir my ‘n gepantserde Merc gaan gee nie maar daar is baie maniere om jouself te verweer.
Baie van die “planne” wat tans die rondte doen is om te vlug na iewers tussen niks en nêrens. Is dit nie maar net boedel oorgee nie? Hierdie land is ons almal s’n en as ons wil oorleef sal ons moet laer trek en beset en verdedig wat aan ons behoort. Laat Malema maar na die spreekwoordelike berg kom.
Dit het tyd geraak dat baie van ons veiligheidsghurus ons mense begin adviseer in plaas van te wil weghardloop. Moet vir geen oomblik dink dat hierdie situasie een van wit teen swart gaan wees nie. Ons gaan saam met ‘n Elton Baadjies en ‘n Nklozi Mgwebi die aggressors die seë in jaag.
