Behuising ‘n multidimensionele probleem

Die Department van Menslike Nedersettings se nuwe holistiese benadering tot die skep van volhoubare behuising is sinvol. Hierdie department het wesenlike uitdagings en daarom is dit goed om te sien dat daar nouer saamgewerk gaan word met provinsies en plaaslike owerhede ten einde die komplekse probleem van behuising aan te spreek.

Die Vryheidsfront Plus wil graag die volgende sake, wat ‘n wesenlike invloed op begroting en diensverskaffing het, onder die aandag van minister Sexwale bring:

1.      Behuising is ‘n multi-dimensionele probleem vanuit ‘n groeiende gemeenskap met ‘n aanvraag wat alle redelike vermoë tot lewering oorskry. Die department se strategiese oorsig noem dan ook dat deel van die department se verantwoordelikheid is die geweldige groei van informele nedersettings. Behalwe vir natuurlike aanwas, is die grootste drywer agter dié groei die poreuse toestand van ons grense en die toestroming van onwettige immigrante na Suid-Afrika en nie, soos die Minister voorheen genoem het, die onwettige uitsetting van plaaswerkers nie. Ek is bly dat die Minister dié misverstand met my partyleier, die adjunkminister van Landbou, Bosbou en Visserye, dr Pieter Mulder, opgeklaar het. Om die onbeperkte groei van informele nedersettings aan te spreek, sal die Minister en sy department eerder met die Department van Binnelandse Sake, Verdediging en Polisie moet konsulteer en ‘n inter-ministeriële plan moet opstel ten einde die invloei van onwettige immigrante te stuit en slegs die te huisves in terme van ons internasionale regsverpligtinge. Dit is ‘n saak wat met die nodige politieke wil en fokus aangepak moet word.

2.      Tweedens, wil ons die Minister vra om ook ag te slaan, nie net op die skep van nuwe behuising nie, maar ook op die instandhouding van bestaande maatskaplike behuising. In daardie verband sal dit sinvol vir die department wees om te skakel met plaaslike owerhede, en veral die Metropolitaanse owerhede in Gauteng, rakende die instandhouding van maatskaplike behuising wat aan hulle behoort. Gedurende die tydperk waarin ek as raadslid in die Johannesburgse Metropolitaanse owerheid gedien het, het ek seker 80% van my tyd gespandeer aan probleme met betrekking tot hierdie tipe behuising wat in meeste gevalle alles behalwe leefbare wooneenhede is. Dat die munisipaliteite traag is om hierdie behuising te onderhou, is inderdaad ‘n oorskatting. Daar bestaan so te sê geen politieke wil tot onderhoud nie, tot so ‘n mate dat telkens met hofsake gedreig moet word om dienslewering te verseker. Ons vra, derhalwe, dat die Minister ook hieraan aandag sal skenk.

3.      Van die Metropolitaanse owerhede het ook besluit om van die maatskaplike behuising aan bewoners te verkoop. In Johannesburg is hierdie koopkontrakte al sedert 2000 met inwoners gesluit, maar tot op hede is nog nie een stuk behuising se titelaktes oorgedra nie. Die verskoning wat Johannesburg Metro aanbied is bloot dat hulle nie geld vir oordrag het nie. Dit is onaanvaarbaar en ons wil van die Minister weet of hy ook op ‘n holistiese basis regoor Gauteng provinsie hieraan aandag kan skenk.  Verdere vertragings in hierdie verband sal lei tot publieke opstand en regsaksies, beide wat teenkonstruktief sal wees vir alle partye hierby betrokke, veral die regering.

4.      Laastens, wil die Vryheidsfront Plus die Minister en sy department gelukwens met hulle suksesse in die stryd teen korrupsie. Dis ‘n bemoedigende teken. Ons wil ook die Minister se aandag op ‘n verdere vorm van misdaad vestig waar raadslede, ten einde polities-gedrewe demografiese verskuiwings te maak, op ‘n bedrieglike wyse onontwikkelde grond wat nie aan hulle behoort nie, aan ongesofistikeerde arm mense verkoop waar hulle dan kom vestig, met informele nedersettings as eindresultaat. Dit blyk landwyd ‘n groeiende probleem te wees.

jocuri barФильчаков прокурор

Maak 'n opvolg-bydrae