praag.co.za

Die Bybel en staatkunde

Written by

in

Die Bybel en staatkunde met die fokus op die periode tussen die Ou en Nuwe Testamente

Beide die Ou en Nuwe Testamente het talle voorbeelde en beginsels oor die staatkunde. Dit sluit voorbeelde van regeervorme in, soos teokratiese regering (deur die Rigters), monargies, imperialisme, nasionalisme, oorloë en diplomasie. 

Een van die mooi voorbeelde van staatkunde uit die Ou Testament spruit uit die optrede van Koning Dawid om Israel as staat te bestendig.

Die staat wat Dawid by Saul oorgeneem het, was ‘n behoorlike tameletjie. Sedert die Israelse vestiging in die Beloofde Land, dwarsdeur die rigterstydperk en die koningskap van Saul, was daar nie net verskeie kolle nie-Israelse bevolkings, soos die Filistyne nie, maar Israel self het geen hegte eenheid gevorm nie. In die noordelike deel van die land het die noordelike alliansie feitlik los van die suidelike stamme hul gang gegaan.

Die Here het op ‘n unieke manier gesorg. Een van die nie-Israelse kolle was die Jebusiete, van Jebus, die hedendaagse Jerusalem. Dawid het Jebus, wat taamlik sentraal tussen die Noordelike Alliansie en die Suidelike stamme gestaan het, verower, en as neutrale hoofstad met ‘n spesiale status ingerig.

Dit herinner sterk aan die moderne praktyke waar state in federasies opgaan en hoofstede selfs vanuit die stof op neutrale (federale) grondgebied opgerig word, soos Camberra en Brasila, maar met Washington DC en Toronto wat soortgelyk tot hoofstede gekies en ontwikkel het.

Op die oog af stap die Bybel van die geskiedenis af voor die opkoms van Alexander die Grote, en kry in Jesus se tyd ‘n voortsetting toe die Romeine in beheer was. In Jesus se tyd het die Jode, Jesus ingesluit, hoofsaaklik Aramees en nie Hebreeus nie gepraat. Duidelik het daar baie gebeur in hierdie sowat 400 jaar waaroor die Bybel skynbaar swyg.

Om daardie 400 te verstaan, is dit nodig om die verhaal tot 539 vC terug te voer. Dit was toe Babilon deur die Perse verower is. Ongeveer ‘n 100 jaar later, van 538 tot 445 vC  het ‘n groot groep Jode na die Heilige land teruggekeer. Die terugkeer was die gevolg van ‘n nuwe benadering tot staatsmanskap deur die Perse, wat lojaliteit probeer bewerkstellig het deur volke groter mate van godsdiensvryheid en selfs terugkeer na hul lande van herkoms gebied het. Dit het in teenstelling gestaan met die Babiloniese assimilasiebeleid gestaan.    

Onder die Perse het die Jode ‘n groot mate van outonomie gehad, maar het deel van die Persiese Ryk gevorm.

Dit moet vermeld word dat die Babiloniërs egter ook aanvanklik ‘n stelsel van onderhorige state verkies het. Opstande en staatsgrepe het egter weerwraak tot gevolg gehad en in 578 vC is Jerusalem ingeneem en ‘n tweede groep is in ballingskap weggevoer. Nog steeds was daar egter genoeg Jode in die Heilige land om selfregering toe te pas, maar in ongeveer 586 is Gedalia, wat namens die Babiloniërs geregeer het, deur ekstremiste vermoor. Baie Joodse families, wat toe weerwraak van die Babiloniërs gevrees het, het na Egipte in diaspora gegaan, en onder meer die bekende Joodse nedersetting op die Elephantine-eiland in die Nyl in die suide van Egipte gevorm.

In die jare 332 tot 331 vC is Palestina deur die magte van Alexander die Grote oorwin, en het deel van die Hellenistiese wêreld geword.

Hoewel Alexander hierdeur ‘n taal verskaf het (al was hy self ‘n Macedoniër) wat lank en genoegsaam as universele taal gedien het om later die verspreiding van die Evangelie moontlik te maak, het die Hellenistiese tydperk geen stabiliteit gebring nie.

Na Alexander se vroeë dood in 323 vC is die wêreldryk tussen sy generaals verdeel wat die oorerflike troonopvolgers eenkant geskuif het. Palestina het aanvanklik deel uitgemaak van die ryk van die Ptolemiërs wat in Egipte gesetel was. Palestina was egter bestem om die strydperk te word van die Selesudiërs wat in Sirië gesetel was.

In een van die oorloë om die besit van Palestina, in 217 vC, het beide magte onder meer van olifante gebruik gemaak. Die Ptolemiërs het weer die beste daarvan afgekom.

In die jare 201 tot 198 het Palestina egter finaal onder die beheer van die Selusiede gekom, en het Antiochus III sy mag oor Palestina uitgebrei.  Antiochus en sy opvolgers het die inwoners doelbewus begin vergrieks, deur onder meer die bou van Griekse stadstate, soos Philidelphia en Pella, en wat gelei het tot die latere bekende Dekapolis (tien stede). Intussen het baie Jade steeds in diaspore gegaan, veral na Egipte in die hande van die Ptolomiërs.

Onder Antiochus IV is die proses van vergrieksing verskerp. Dit is deels teweeg gebring deur die advies van Jode wat sterk vergrieks het.

Volgens baie navorsers dateer die boek Daniël ook uit hierdie tyd. Die gedagtegang was dat die skrywers met die Jode wou kommunikeer, maar weens die onderdrukking van die Joodse kultuur en nasionalisme, moes dit in kodetaal geskied. Terwyl die Daniël skynbaar na die tyd van die Babiloniese ballingskap verwys is genoeg feitefoute gelaat dat die Jode, wat goed met die feite van die ballingskap vertroud was, anders as die Griekse heersers sou weet wat die boodskap was wat die Joodse leiers werklik deurgegee het.

Breedweg was dit praktyk onder Antiochus om jong leiers te identifiseer en hulle uit hul omgewing te neem, en deur spesiale onderrig met die Griekse kultuur en administrasie vertroud te maak. Die Babiloniërs, wat Daniël en sy vriende aan so ‘n proses sou onderwerp het, het dit nie gehad nie.

Die gekodifiseerde boodskap was dus duidelik: Moenie vergrieks en van die Joodse weë aflei nie.

In 167 het die Makkabese opstand begin. Teen 163 vC het Judas, wat aanvanklik ‘n Joodse gebied vanuit die Judease wildernis begin bou het, al tot by Joppe aan die kus gevorder. Hier het hy wraak geneem op Jode wat mede-Jode verdrink het om witvoetjie by die Grieke te soek.

Teen 162 het Judas reeds baie Joodse grondgebied verower, maar nie kusgebied nie, en in baie ooreenstemming met die tyd na Israel se onafhanklikheid, was Jerusalem toe ook ‘n verdeelde stad, met die helfte in die hande van die pro-Griekse elemente. Teen 141 vC was die hele stad egter reeds in die hande van die Makkabeërs.    

Hoewel die Grieke in ‘n stadium die Joodse staat, toe onder die leiding van Jonathan, erken het, is die skyn volgehou dat dit ‘n Griekse vasalstaat was, wat voortdurend tot konflik gelei het. In 143 tot 142 vC het die Tryphon deur ‘n daad van verraad Jonathan, wat hy gemeen het te onafhanklik geword het. gevange geneem, maar Simon het gewoon sy voorgangers se werk voortgesit. In een verslag word gemeld dat hy ‘n veldslag met 20 000 man aangepak het.

Judea het in 142 vC, onder die leiding van Simon, formeel onafhanklik geword toe Demetrius II onafhanklikheid toegestaan het. Dit was weer die gevolg van Simon, in reaksie op die verraad van Tryphon, ‘n bondgenootskap met Tryphon se opponent, Demetrius gesluit het.

Die stryd om uitbreiding het egter onverpoosd voortgeduur. 

Johannes Hyrcanus, wat lank oor die Joodse staat geregeer het, het ‘n welvarende koninkryk nagelaat, maar dit word vermeld dat daar teen die einde van sy heerskappy reeds kwaai stryd tussen die Fariseërs en Sadduseërs was.

Uit Hyrcanus se bewindstyd blyk dit ook reeds hoe diep die verskille tussen Jode en Samaritane was. Die Samaritane moes met ‘n veldslag ingelyf word, maar het hulle teen ver-Joodsing verset. Ironies was die stad Samaria destyds deel van ‘n reeks Griekse stede, en nie Samaritaans nie.

Die laaste werklike Joodse koning, Janneus, het in 76 vC gesterf, en toe die Romeine Jerusalem in 63 vC beleër het, was Ibabod reeds oor hierdie Joodse staat geskryf.  Die Romeine het bloot die beleëring van die stad by een van Janneus se seuns oorgeneem, wat die stad wat in sy broer se besit was, probeer oorneem het.

Toe die stad, op ‘n Sabbatsdag, ingeval is, het 12 000 mense na berig word gesterf. Pompeius het hierna ‘n Joodse staat geskep wat moeilik weer sterk sou kon word, met Galilea  in die noorde, geskei van Judea in die suide nie net deur ‘n Samaritaanse gebied nie, maar ook die Griekse stede met ‘n groot mate van outonomie, die Dekapolis.

Hoewel die staatkunde ingrypend verander is teen die einde van Herodus se heerskappy, het baie van die geografiese faktore nog in Jesus se tyd gegeld. Om van Galilea na Jerusalem te reis, moes noodwendig oor nie-Joodse grondgebied gereis word. 

Opsommend kan dit gestel word dat die Heilige Land destyds moeilik ‘n groot genoeg bevolking kon huisves om ‘n sterk genoeg mag te verseker wat teen die strydende magte van Mesopotamië en Egipte staande kon bly. Bronne meld dan ook dat die land reeds vroeg na die Griekse besetting nie die bevolking kon voed nie, en deels tot die destydse diaspora bygedra het.

Die gebied het dus dikwels as slagveld gedien, en die Israelse konings se regeerkuns het dikwels bestaan uit ‘n balanseertoertjie tussen die strydende magte. Soms is verkeerd geoordeel, en het die Israeliete swaar weerwraak op die lyf geloop. Die Makkabeërs se Joodse staat het ook grootliks moontlik geraak deur die magstryd tussen die strydende Griekse bewinde in Sirië en Egipte, en ander onderlinge stryde.

Die boek Daniël is vermoedelik nie die enigste kodeskrif wat op die oog af na die Babiloniese ballingskap verwys, maar in werklikheid teen die vergrieksing van veral Antiochus IV gemik was nie. Onder die apokriewe boeke gee die boek Barak duidelike riglyne oor hoe die godsdiensbelange in Jerusalem deur allerlei bydraes van die Jode gesteun moet word.

Behoort hierdie geskiedenis eintlik deel van die Bybel uit te maak?

Waarskynlik nie.

Moet ons lesse hieruit neem, en indien wel, watter lesse?

Ten eerste kan staatkundige lesse hieruit nie los geneem word van ander lesse in die Bybel nie.

Dat die boek Daniël as kodeskrif sy weg na die Bybel gevind het, kan deur sommige vertolk word as ‘n aanduiding van waar die grens lê tussen blindelings aan die keiser gee wat die keiser toekom, en aktiewe handeling om ‘n regering daar te stel wat binne die perke van sy menslike swakhede God se wil probeer doen.

Aardse ryke kom en gaan. Die Koninkryk van God word uitgebrei, ongeag die teenspoed, en selfs wrede vervolging. Die laaste ding wat die Grieke wou doen was om ‘n universele taal bekend te stel waarmee die Evangelie versprei kon word. Die laaste ding wat die Romeine wou doen was om paaie te bou waarlangs die Evangelie versprei is.

Die laaste ding wat die keisers wou doen met die vervolging van Christene was om hulle uit hul gemaksones in die stede te dwing en na die uithoeke van die wêreld te dwing waar hulle die Evangelie gaan versprei het.

Miskien het die Makkabeërs ‘n te sterk Joodse nasionalisme, gebou op die Joodse godsdiens, gebou dat hulle nie vatbaar was vir die Evangelie nie – opsluit ook ‘n Messias wou hê wat die aardse Joodse staat ten alle koste moet herstel.

Dit is insiggewend dat die heidense Romeinse ryk self gekersten is, en dat die Bisantynse ryk lank oor die gebied regeer het wat die Heilige Land insluit.

Die Here het beskik dat dit in die hand van die Islam moes val.

Hierna is by geleentheid ‘n Kruisvaarderkoninkryk geskep wat ongeveer ‘n 100 jaar bestaan het. Die Here het beskik dat dit moes ondergaan.

Wat ons wel weet is dat die Here van ons verwag om dit wat aan ons toevertrou word, te regeer as Ligdraers. Ons is immers nie net Christene in die kerk nie, maar ook in die gesin, die werkplek, die parlement…

Die kom en gaan van ryke beteken nie ons kan maar net sowel ons lampies onder die maatemmer gaan wegsteek nie.   

 магазин велосипедов киевФільчаков Олександр Васильович

Comments

Leave a Reply