Die grondwet en demokrasie

In sy eenvoudigste vorm kan dit gestel word dat die doel van ‘n grondwet behoort te wees om demokrasie te verseker, en dan hierdie demokrasie so te temper dat ‘n diktatuur deur die meerderheid nie kan ontstaan nie.

‘n Grondwet wat nie aan hierdie doel kan beantwoord nie, is nie ‘n goeie grondwet, of nog minder, soos Max du Preez dit die afgelope naweek gestel het, ‘n wonderlike grondwet.

‘n Belangrike toets wat ‘n grondwet moet kan deurstaan, is dat dit nie vir sommige burgers ideologies wonderlik, en vir ander ideologies onaanvaarbaar mag wees nie. Dan faal die grondwet om bo die politiek van die dag uit te styg, en kan dit misbruik word.

In oorwegend homogene lande soos Australië is daar trouens ‘n skerp debat oor of ‘n grondwet hoegenaamd so sterk behoort te wees dat dit keuses van die burgery, soos deur politici verteenwoordig, kan beperk. In wese kom dit daarop neer dat die nie-demokratiese verkose regters in gevalle van ongrondwetlike keuses deur die kiesers, ‘n stokkie voor daardie keuses kan steek. Dit word daar as ‘n onregverdige inbreuk op demokrasie beskou.

Die voorstanders vir onbeperkte demokrasie toon verskeie voorbeelde waar die burgery, en nie die grondwet nie, van onaanvaarbare praktyke ontslae geraak het, soos slawerny in die VSA.

Hierdie argument loop egter in sy eie beperkings vas. Persvryheid word vandag as ‘n onlosmaaklike deel van demokrasie beskou, en sonder ‘n grondwet kan die meerderheid in teorie persvryheid en ander burgerregte gewoon nek omdraai.

In ‘n heterogene land soos Suid-Afrika word veel groter toetse aan grondwette gestel. Dit is internasionaal – met enkele uitsonderings na – praktyk dat heterogene lande se grondwette naas ‘n handves van individuele menseregte ook ‘n volwaardige deel vir groepregte het, of minstens, vir minderheidsregte. Hierdie regte sluit aan by die Volkereg. Die Afrika-kommissie vir Mense- en Groepregte, waarvan Suid-Afrika ‘n lidland is, se manifes maak byvoorbeeld ruim voorsiening vir groepregte.

Suid-Afrika s’n nie, volgens mnr. Roelf Meyer, en verduidelik hy, is eerder die koers ingeslaan dat groepe hul regte moet beding deur die kollektief van individuele regte. Hoe kleiner ‘n groep, hoe minder bedingingsmagte dus, en hoe minder opeisbaar is die minderheidsregte.

Hoe goed of sleg Suid-Afrika se grondwet is, word egter ook getoets aan die hand van ander uitvoeringsaspekte. ‘n Positiewe teken is dat die regering hom kort-kort in die howe bloedneus loop teen pogings om ongrondwetlike praktyke in te voer. Die howe is egter weens die koste en tydsaamheid nie altyd die geskikte remedie nie, en hiervoor is instansies soos die Menseregtekommissie, die Openbare Beskermer en Pansat in die lewe geroep.

‘n Kombinasie van tandeloosheid en die laai daarvan met regeringslui maak dat dit oorbodig is om veel hieroor te sê. Grondwetlike kenners doen selde meer die moeite om na hierdie instellings te verwys, en die Kommissie vir die Bevordering en die Beskerming van Kultuur-, Godsdiens- en Taalgemeenskappe is weens regeringsmanipulasie effektief disfunksioneel en word effektief glad nie meer genoem nie.

Die howe bly die laaste bastion. Die howe word egter nou self onder die vergrootglas geplaas, en die jongste sneller is die sittings van die Regterlike Dienstekommissie om Wes-Kaapse regters aan te stel.

Die wortel hiervan is duidelike aanduidings dat pres. Jacob Zuma uitsprake maak wat daarop dui dat hy alles as ondergeskik tot die regering, en uiteindelik Lethuli-huis beskou. Verskeie poste wat professionele neutraliteit en objektiwiteit vereis is reeds deur mense gevul wat in effek niks anders as politieke kommissarisse is nie.

In Nasionale Pers se Afrikaanse dagblaaie het daar die afgelope twee dae ‘n hoofartikel verskyn wat gemik op die regterlike dienstekommissie vrae vra. Uiteindelik word gevra dat die aanstellings in die gees van die grondwet moet geskied.

Is dit ‘n eerste, vroeë erkenning dat die grondwet leemtes het? Dat op die gees as eerder as die letter van die grondwet staatgemaak moet word? Dat mooi gevra in plaas van opgeeis word?

Geen grondwet kan volmaak wees nie, bloot omdat dit mense is wat dit opstel. En mense is feilbaar. Die rits “ammendments” aan die Amerikaanse grondwet dui daarop dat ‘n grondwet ook nie leweloos kan wees nie. Tog is daar maar toenemend weer druk om onbedoelde gevolge teen te werk. In die VSA het die regters aborsies op aanvraag gewettig, maar nou is die meerderheid Amerikaners volgens peilings daarteen gekant. In Suid-Afrika geld dieselfde, en boonop dui peilings daarop dat die meerderheid Suid-Afrikaners ten gunste van die doodstraf is, maar dit is ongrondwetlik – ironies op dieselfde menseregtebepaling wat dit vir verskeie Amerikaanse deelstate moontlik maak om wél die doodstraf toe te pas.

Oor die kwessie of ‘n grondwet sekulêr moet wees of onder die oppergesag van die Allerhoogste gestel moet word, woed ‘n debat op sy eie, omdat sekulêre grondwette dikwels godsdiens tot die kerklike terrein wil beperk, en dan die morele kodes wat ‘n funksionerende demokrasie onderlê, soos ‘n afkeer aan korrupsie, in die sekulêre en dikwels agnostiese wêreld probeer vind. Dit druis immers in teen die Christen-begrip dat ‘n mens nie net ‘n Christen in die kerk is nie, maar ook in die werkplek, in die huwelik, in die gesin en …in sy burgerlike pligwêreld.

In die Bybel word die vraag gevra: “Waar sal ons hulp vandaan kom?”

Die antwoord is nie “Van die wonderlike grondwet” nie.

best gameпрокурор Фильчаков

Maak 'n opvolg-bydrae