Die wolk het bo ’n krater uitgestyg wat bedek is met ys van ongeveer 200m diep by die Eyjafjallajokull-gletser.
Die radiodiens van die Yslandse regering het berig die uitbarsting was naby die plek waar daar verlede maand ‘n uitbarsting plaasgevind het en wat Maandag eers uitgewoed was.
Die radiodiens het voorts berig dat Ysland se burgerlike beskermingsowerheid 700 mense aangesê het om hul huise te ontruim en gemaan het dat ’n rivier daar naby – wat reeds met 84cm gestyg het – kan oorstroom weens die smeltende ys.
Luidens die berig kon ’n opening in die gletser vanuit ’n vliegtuig van die kuswag gesien word, maar weens lae wolke is geen lawa of vuur opgemerk nie.
Wetenskaplikes in Ysland het vroeg Maandagoggend, twee uur voor die uitbarsting, ’n toename in seismiese aktiwiteit naby die gletser gemeet.
Daar was geen ongevalle toe die vulkaan naby die Eyjafjallajokull-gletser verlede maand uitgebars het nie.
Ysland is as’t ware in ’n vulkaniese mynveld in die Middel-Atlantiese rif geleë en uitbarstings is ’n betreklik algemene verskynsel.
