Julius Malema, leier van die ANC-jeugliga, sê hy word nie bevoordeel deur regeringtenders nie, en leef van aalmoese, berig die Mail&Guardian.
In ‘n onderhoud by sy huis in Sandton, Johannesburg het hy gesê: “Ek is nie ryk nie. Ek het nie miljoene soos daar vroeër berig is nie”.
“My huise is deur die bank gefinansier. Ek het nog nooit ‘n onwettige tender bekom nie, insluitend die maatskappy SGL.”
“Ek leef meeste van die tyd van aalmoese. As ek nie kos het om te eet nie, kan ek vir Cassel Mathale [premier of Limpopo] bel en sê: ‘Chief, kan jy my help? Ek het niks hier nie’.
“Ek kan vir Thaba Mufamadi [LUR in Limpopo], Pule Mabe [tesourier van die ANCYL] of Mbalula [Fikile Mbalula, adjunkminister van polisie] bel.”
“Hulle doen almal dieselfde met my. Dit is hoekom jy nie eens ons armoede kan sien nie, ons ondersteun mekaar,” het Malema gesê.
Hy het gesê as enigiemand konkrete bewyse het dat hy die tenderproses in Limpopo manipuleer het, moet hulle hom by die polisie gaan aanmeld.
“As die staat miljoene in sy rekening kry, moet hulle dit vat en aan instellings wat kinders help, skenk.”
Oor sy herhaaldelike “Skiet die Boer”-uitlatings, het hy gesê hy sing dit al vir die afgelope nege jaar.
“Die neiging is om alles te gebruik om die jeugliga te diskrediteer en onnodige paniek onder die wit minderheid te saai. Maar jy moet weet dat die mense die intellektuele kapasiteit van swartmense ondermyn.”
