Twee hutte is die naweek in Clermont in Durban afgebrand tydens betogings deur ANC-ondersteuners, het polisie van KwaZulu-Natal Maandag gesê.
“Niemand is beseer nie en ons weet nie aan wie die hutte behoort het nie,” het supt. Vincent Mdunge gesê te midde van gerugte dat dit aan lede van Cope behoort het.
Die polisie kon Sondag nog nie die voorval bevestig nie.
Polisielede het met rubberkoeëls op ANC-betogers losgetrek nadat hulle onwettig byeengekom het. Die skare het daarna die polisie met klippe bestook.
“Sowat 600 ANC-lede het slagspreuke geskree in Clermont en Cope-lede het dit as ‘n soort bedreiging ervaar en die polisie genader om in te tree,” het Mdunge gesê.
“Dit was ‘n onwettige betoging en daar is gepoog om die massa mense uiteen te jaag, maar daar was geen samewerking nie.”
Die openbare orde-polisiëringseenheid is ingeroep en daar is herhaaldelik probeer om die groep te verdeel, maar betogers het die polisie geïgnoreer.
“Rubberkoeëls is gebruik en gevolglik het hulle begin om die polisie met klippe te gooi. Hulle het mettertyd begin uiteengaan en geen beserings is aangemeld nie.”
Cope het in ‘n verklaring gesê dat betogers huise en winkels wat aan hulle lede behoort aan die brand gesteek het.
Daar word verneem dat die probleem ontstaan het nadat Cope beplan het om ‘n tak in die gebied oop te maak.
Volgens Mdunge was die omgewing Maandag stil voor ‘n vergadering tussen die ANC, Cope, die gemeenskap-polisieforum en plaaslike polisie.
