Nathi Mthethwa, minister van polisie, het Maandag by AgriSA se Misdaadkonferensie in Centurion gesê arbeidskwessies en swak kommunikasie tussen boere en plaaswerkers lei tot plaasmoorde.
Hy het gesê politiek en by implikasie rassevooroordeel speel geen rol by plaasaanvalle nie.
“Mense moet regtig sensitief wees as hulle uitsprake maak oor misdade, veral dié wat ondersoek word. As dit ‘n moord was, is dit net ‘n misdaad, klaar!”
Benewens arbeidskwessies en swak kommunikasie tussen boere en plaaswerkers, het hy ook die die huur van buitelanders, wat die land onwettig binnekom, as van die grootste probleme uitgelig.
André Botha, die voorsitter van AgriSA se veiligheidskomitee, het gesê hy betwis die minister se stellings. “Ek wil dit kategories stel dat die grootste aantal van plaasaanvalle nie weens swak kommunikasie tussen boere en plaaswerkers plaasvind nie. Ons navorsing dui ook nie aan dat die indiensneming van buitelanders op plase grootliks daartoe lei nie!”
Nthethwa sê sy departement huiwer om te reageer oor plaasaanvalle nie, want dit is ‘n sensitiewe saak. “Dit is ‘n baie netelige saak, en daarom het ek en my departement ons nog nie daaroor uitgespreek nie.”
Volgens die polisie se statistiek het daar tussen 1997 en 2007 altesaam 2 148 moorde op plase in Suid-Afrika voorgekom.
Mthethwa sê polisieverslae van 2003 het aangedui dat die meeste van die moorde onder plaaswerkers of gaste van hulle plaasgevind het. “Die misbruik van alkohol is ‘n groot probleem,” het hy gesê.
