Dit is steeds onduidelik waar pres. Jacob Zuma sy handboek gekry het oor hoe om ‘n land nié te regeer nie. Hy wend dit egter klaarblyklik steeds mildelik aan.
Terwyl nog ‘n uiters grusame plaasmoord in die Oos-Kaap, te midde van ‘n dawerende swye in al elf amptelike tale deur die regering, aan die lig kom, word ‘n parlementslid gedwing om ‘n opmerking terug te trek dat die regering wetteloosheid bevorder. Buite die parlement was meer as twintigduisend protesbriewe van die publiek om beswaar oor misdaad te maak, maar die regering weier om dit in ontvangs te neem.
Dié protesbriewe was die gevolg daarvan dat pres. Jacob Zuma in sy staatsrede slegs enkele futlose sinne aan misdaad en die bekamping daarvan afgestaan het.
Aan die vooraand van hierdie staatsrede het ver skeie aanvalle op gesinne in veiligheidskomplekse plaasgevind, was daar lewensverlies en is die vrou van ‘n gospelsanger verkrag. Minstens vyf boere of hul gesinslede is vanjaar reeds in plaasaanvalle vermoor, die meeste uiters grusaam.
Onlangs het die Nederlandse koerant Trouw ‘n artikel geplaas waarin met taamlike grusame detail oor Suid-Afrika se plaasmoorde berig word. Sedertdien het minstens nog drie sulke moorde plaasgevind.
Om tot die gevolgtrekking te kom dat die regering wetteloosheid aanmoedig is dus nie te moeilik nie, en ‘n eis om so ‘n opmerking wat onder parlementêre privilegie gemaak is terug te trek sonder om opposisiebetoë hieroor aan te hoor, laf.
Vrye mark ekonome is dit eens dat die staat se rol in die ekonomie beperk moet wees tot die verskaffing van ‘n veilige omgewing waarbinne markkragte optimale spierkrag kan toon. Al is almal nie ewe oortuig dat die staat se rol so beperk kan word nie, beteken dit nie dat iemand die veilige omgewing as voorvereiste betwis nie. Dat die regering juis nou, aan die vooraand van die nasionale begroting volstruispolitiek oor misdaad aan die dag lê druis in teen landsbelang, net soos die onwilligheid om nasionaliseringspraatjies behoorlik nek om te draai.
Te midde hiervan het die Minister van landelike Ontwikkeling en Grondhervorming weer die opmerking gemaak dat die beginsel van vrywillige verkoper, gewillige verkoper, nie bekostigbaar is nie, en daarom ‘n groot bedreiging vir die land se veiligheid inhou. Die verwagtinge wat die regering op hierdie wyse wil paai, is in ‘n land met marginale landboustoestande egter nog gevaarliker, aangesien betreklike groot plase nodig is om ‘n inkomste gelykstaande aan die regering se minimumlone te verseker. Tog hou die regering vol met stellings dat hy landelike armoede wil teenwerk deur die grootskaalse vestiging van kleinboere. Enige landbou-ekonoom sal uitwys dat hierdie beleid armoede skep en voedselsekuriteit na die maan stuur – juis die grondslag vir geweld.
