Makhura het gesê dit was die ANC se plig om die “provokasie” van groepe soos Afriforum wat teen die naamsverandering gekant is, te vermy.
“Ons weet dat daar mense in Tshwane is wat verandering goedgesind is,” het hy gesê.
Hy het gesê groepe soos Afriforum was net sensitief oor een kant van Suid-Afrika se geskiedenis, terwyl die ANC baie verskillende kante van die verlede wou erken.
Die party wou byvoorbeeld kyk hoe die geskiedenis van Afrikanerstryd voorgestel moet word.
Maandag het die Vryheidsfront Plus gesê dat dié party, tesame met Afriforum, in die hooggeregshof sou aansoek doen om die wetlike posisie rondom die naam van die hoofstad op te klaar.
Verlede week het die segsman van die Tshwane-munisipaliteit, Console Tleane, bevestig dat planne bestaan om alle padtekens van “Pretoria” na “City of Tshwane” te verander.
Maar dié planne was nog ten beste “’n bespreking wat waarskynlik na konkrete planne sou lei”.
Tleane het beaam dat die munisipaliteit Pretoria as ‘n voorstad binne die “city of Tshwane” beskou.
