De Klerk het hom vandeesweek probeer verdedig teen ANC-beskuldigings tydens ’n perskonferensie waar hy gekla het dat “die stories my reputasie verskriklike skade aangedoen (het, omdat) dit poog om dit moeilik te maak vir my om aan te hou om ’n konstruktiewe rol nasionaal en internasionaal te speel.”
“En dit het die potensiaal om my materiële belange ernstig en negatief te beïnvloed,” het hy verder gesê. De Klerk was die afgelope aantal jare gereeld ’n genooide spreker in die buiteland waar hy as gewese staatshoof teen betaling toesprake gelewer het. Waarskynlik is dit waarna hy verwys met sy “materiële belange”.
Verdere bewerings wat nou teen De Klerk gemaak word, is dat hy op 20 Desember 1985 ’n buitengewone vergadering van die Staatsveiligheidsraad in Tuynhuys bygewoon het lede van die kabinet, onder andere Magnus Malan, Louis le Grange en Chris Heunis teenwoordig was en waar besluit is om hulp aan die IVP te verleen om ’n “veiligheidsmag” op die been te bring.
Vyf maande later is besluit dat vervoer vir die IVP-mag deur die amptelike veiligheidsmagte verskaf moet word. “Dit moet bereid wees om onpopulêr te wees en selfs gevrees te word sonder om die beeld van die SAW en die SAP af te takel,” het ’n dokument tydens die WVK blykbaar gelui.
Op 14 Julie 1986 en 8 September 1986 het De Klerk twee ander vergaderings van die Staatsveiligheidsraad bygewoon waar optrede teen ’n lys van “polities sensitiewe persone” bespreek is. Die vergadering het besluit dat die “lys van polities sensitiewe persone verkort moet word en dat metodes buiten aanhouding oorweeg moet word”.
Deur die ANC se voorneme om De Klerk, oud-minister Adriaan Vlok en Johan van der Merwe te vervolg, wil dit voorkom asof ’n nuwe propagandaoorlog tussen dié beweging en die destydse NP-onderhandelaars losgebars het. Intussen berig Rapport dat ’n slagoffer van ANC-terreur, Mnr. Dirk van Eck (58) en sy seun, Erick (22), die nasionale vervolgingsgesag per brief gevra het “om die saak teen oud-minister Vlok en Van der Merwe te laat vaar. Indien dit nie laat vaar word nie, wil hulle vra dat soortgelyke vervolging ingestel word teen ANC-leiers wat die opdrag gegee het vir Operasie Kletswayo, die landmyn-ontplof- fing wat lede die Van Eck- en De Nysschen- gesin op ’n private wildplaas in Limpopo aan flarde geruk het.”
Die Van Eck-gesin staan sal in hul regsaksie deur Afriforum, ‘n afdeling van die vakbond Solidariteit, bygestaan word. Dis bekend dat die hoof van Solidariteit, mnr. Flip Buys, asook die Afrikanerbond, nou met die FW de Klerk-stigting skakel en ook voorheen saam aan gesprekke met die ANC deelgeneem het.
Die vraag is egter of die Nasionale Vervolgingsgesag onder mnr. Bulelani Ncguka, wat reeds sy posisie in die Zumageval misbruik het, bereid sou wees om ANC-ampsdraers te vervolg op grond van klagtes wat deur blanke Afrikanerslagoffers gelê word.
Die twee persone wat die landmyne geplant het waarin Van Eck se gesin beseer is en sy vrou uiteindelik dood is, Mzondeli Euclid Nondula en Nthetheleli Zephania Mncube, het kwytskelding van die WVK ontvang. Hoewel die ANC ‘n dag na die ontploffing oo 15 Desember 1985 aanspreeklikheid daarvoor aanvaar het, het geen ANC-leier nog ooit vir amnestie aansoek gedoen nie.
Volgens Van Eck het hy “nie ’n probleem met Mncube en Nondula nie. Hulle was marionette. Ek het ná die WVK gevoel dit is aan albei kante afgehandel. Totdat die nasionale vervolgingsgesag vroeër vanjaar die ou wonde begin oopkrap het.”
Maar hy voel dat die verantwoordelike leiers van die ANC ook aan die pen behoort te ry as individue soos Vlok en Van der Merwe tans aangekla word.
Hy sê: “Ek het besluit genoeg is genoeg. Dit gaan nie oor my belange nie. Dit gaan oor die regering wat weer van voor af die nasie begin polariseer deur eensydig op te tree.”
Van Eck sou graag wou hê dat die boek van die verlede toegemaak moet word en dat geen verdere vervolgings van beide kante ingestel behoort te word nie.
Met sowel die howe as die nasionale vervolgingsgesag wat intussen met ANC-lojaliste getransformeer is, is dit egter moeilik om te sien hoe Afriforum namens ANC-slagoffers hofsake met dieselfde selfvertroue as die ANC gaan voer. Die ANC se beheer oor die howe het veral tydens die Ermelo-saak teen Afrikaans na vore gekom waar die hoofregter in die Transvaalse Hooggeregshof, Bernard Ngoepe, summier ‘n vorige bevinding van ‘n blanke regter omver gewerp en sonder opgaaf van redes vir Hoërskool Ermelo gedwing het om intussen Engelse klasse in te stel.
Die dreigement van teenvervolgings vanuit die De Klerk-kamp mag dus redelik tandeloos blyk.
