Medisinale Manto
President Mbeki het gister in sy weeklikse nuusbrief vir Manto Tshabalala-Msimang, minister van gesondheid, verdedig. Dit volg op die onlangse herrie wat ontstaan het na aanleiding van die abnormaal hoë babasterftesyfer van die Frere-hospitaal in die Oos-Kaap.
In ’n filosofiese relaas van “feite teenoor fiksie” meen Mbeki diegene wat die situasie by die hospitaal gekritiseer het, jok. Die Daily Dispatch het naamlik ’n artikel gepubliseer waarin beweer word dat 2 000 babas oor die afgelope veertien jaar by Frere-hospitaal doodgebore is. Verlede maand het nie minder nie as 43 babas gesterf. Adjunkminister Nozizwe Madlala-Routledge het die hospitaal besoek die dag nadat die nuusberig verskyn het. Sy het na die situasie by Frere verwys as simptomaties van die “nasionale krisis” in die openbare gesondheidsektor.
Kort ná die adjunkminister se besoek het minister Manto Tshabalala-Msimang ’n ondersoek na die babasterftes by Frere geloods. Daar is bevind dat die hospitaal se instandhoudingsbegroting totaal ontoereikend was en dat daar inderdaad ’n personeeltekort was, soos deur die Daily Dispatch uitgewys. Sy het egter verklaar dat die sterftesyfer by die hospitaal oordryf is en nie erger is as by ander staatshopitale nie.
Mike Waters, die Demokratiese Alliansie se woordvoerder oor gesondheidsake, het ’n beroep op die minister gedoen om die volle inhoud van die verslag bekend te maak en beweer dat foute verdoesel is om die provinsiale owerhede te beskerm. Mbeki, wat uit die Cambridge Dictionary of Philosophy en Charles Dickens aangehaal het, het Waters egter geroskam omdat hy die koerantberig geglo het en die minister gekritiseer het.
Die president bekla die feit dat “die waarheid nie altyd met die werklikheid ooreenstem nie.“ Hy sluit af met die volgende woorde: “Op een of ander stadium ontdek diegene wat probeer om die werklikheid te vervals ten einde hulle eie doelwitte te bereik, dat leuens hulle nie ver bring nie. Die stryd gaan voort!“
best game to play at a casinoДанильченко Юрий прокурор