Volgens die Organisasie vir Menseregte van Suid-Afrikaanse Gevangenes is daar tans 50 000 verhoorafwagtendes uit ’n totaal van 162 587 gevangenes wat in 240 tronke in die land aangehou word. Volgens Golden Miles Bhudu van die organisasie, lyk dit of beamptes in die polisie en justisie min gepla is oor die probleem en dat hulle glo hulle sal hul salarisse bly ontvang, ongeag of hulle hul werk doen of nie.
Ene Anthony Fish van Milnerton, wat tans op parool uit is, het onlangs oor die haglike omstandighede in die Pollsmoor-tronk waar hy aangehou is, gekla. Gesonde gevangenes deel selle met ander wat vigs of tuberkulose onder lede het. Hy is self aangehou in ’n sel van 8m x 12m saam met 56 ander mans. Daar was 34 beddens, een toilet en een stort. Dit het van weeluise en kakkerlakke gekrioel. Sommige gevangenes word net ’n uur per dag vrygelaat en die binnehof waar die gevangenes veronderstel is om te oefen, is vuil. Bendelede steek selmaats onder beddegoed weg, in die hoop dat die selle leeg sal lyk en bewaarders meer gevangenes daar sal plaas wat hulle dan kan besteel. Hulle klere en besittings word dan gestroop en vir dwelmmiddels (tik of dagga) verkoop. Gevangenes het seks met mekaar voor die ander selinwoners. Ou selfoonkaarte word as lepels gebruik om pap mee te eet. Saans kan pornografiese films vir R5,00 gehuur word.
Volgens ’n woordvoerder van die departement van korrektiewe dienste is die regering bewus van die probleme in plaaslike tronke en werk hulle aan oplossings. Hy het dit beklemtoon dat soortgelyke probleme ook elders in die wêreld voorkom.
Leave a Reply
You must be logged in to post a comment.