Die burgerregte-inisiatief AfriForum het skerp gereageer op die aanval wat die voorsitter van die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party (SAKP), Gwede Mantashe, vanoggend in sy openingstoespraak by die SAKP se nasionale kongres op AfriForum geloods het met sy stelling dat AfriForum vir ʼn “rassistiese agenda” veg.
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het in reaksie hierop soortgelyke woorde as die Afrikaanse skrywer Langenhoven gebruik, deur te sê dit is vreemd dat Mantashe AfriForum se billike aspirasies verkeerdelik as “rassisties” voorhou, terwyl die SAKP se rassisme valslik as billike aspirasies voorgehou word.
“Mantashe se aanval is misplaas, veral in die lig daarvan dat dit juis eerder die SAKP/ANC-alliansie is wat ʼn rasbehepte ideologiese agenda op elke terrein van die samelewing wil afdwing,” het Kriel gesê.
Volgens Kriel sal AfriForum hom beslis nie van stryk laat bring deur Mantashe se aanval nie en sal AfriForum ook nie by ʼn rasse-moddergooiery betrokke raak nie. “Mantashe se rasbehepte uitsprake dien eerder as motivering vir AfriForum om aan te hou stry vir vreedsame naasbestaan, wedersydse respek, billikheid en geregtigheid vir almal in die land,” het Kriel bygevoeg.
