Vroeër vanjaar het die Nederlandse regering die kop van ‘n eertydse koning van ‘n Ghanese stam aan nasate terugbesorg – die afloop van ‘n bykans vergete era toe Nederland koloniale heerskappy oor daardie deel van Afrika gevoer het.
Pas het dit aan die lig gekom dat die weduwees van Indonesiese mans wat 62 jaar gelede deur ‘n Nederlandse mag tydens die 1945 – 1949 gewapende verset vermoor is, die Nederlandse staat hieroor aankla.
In ‘n tikkie ironie berig die Nederlandse pers oor die huidige vervolging van Heinrich Boerse wat in die doodsnikke van die Tweede Wêreldoorlog aan die hoof gestaan het van ‘n Duitse eenheid wat weerwraak moes neem op Nederlanders weens die optrede van Nederlandse versetbeweging. Boerse word nou aangekla van die willekeurige uitkies van drie burgers om so vermoor te word. Boerse meen hy het bloot opdragte uitgevoer.
Hierdie grepies is goeie voorbeelde van hoe gister se helde vandag se skurke kan wees.
Baie Suid-Afrikaners sal onthou hoe fel die Nederlandse regering, veral in die bewindsjare van Joop den Uyl, teen die destydse Suid-Afrikaanse regering te velde getrek het. Min waarnemers van buite sou ooit kon dink dat die einste veroordelende regering die kop van ‘n Ghanese koning iewers laat stof vergaar het nie.
Pas het Zambië dié land se hoogste eerbewys vir ‘n voormalige vryheidsvegter, die Orde van die Arend, aan pres. Jacob Zuma oorhandig. Mense wat geliefdes – waaronder ‘n baba – in ‘n landmynontploffing op ‘n plaaspad aan die dood afgestaan het, of wie se familie in ‘n aanval op ‘n vrouekroeg afgemaai is, of in ‘n aanval op ‘n kerk gesterf het, sal dalk meer as net sinies oor hierdie toekenning wees. Dit is egter moeilik om te oordeel hoe Zuma se historiese perspektief internasionaal hierdeur geskend sal word.
Die maatskappy TNS het ook bekend gemaak dat pres. Jacob Zuma se gewildheid nou tot 58 persent gestyg het.
Dit sal Zuma egter loon om te let wat met die reputasie van sy regstreekse voorganger geword het. Nie alleen word daar uit sommige kringe vuur gespoeg oor oud-pres. Thabo Mbeki se hantering van die Vigskrisis nie, maar Zuma self het Mbeki as hoofonderhandelaar met Zimbabwe afgedank om uiteindelik vordering met die halsstarrige buurman te kan maak.
Zuma het self die geleentheid om te kies hoe die geskiedenis hom gaan onthou. Hy het immers toegang tot adviseurs van die kaliber wat skaars in die Afrika-konteks is. Hy kan dus kies of hy onthou wil word as die president wat die land op ‘n herstelkoers gelei het – in meer as een opsig. Of hy kan onthou word as die president wat die onafhanklikheid van die regbank en dus die grondwetlike demokrasie gesloop het, en die rekord hou vir die meeste teen-korrupsie uitsprake en die minste aktiewe optrede teen hierdie kanker in eie geledere.
Sy bewind kan onthou word as die een met die langste soustrein met ‘n reuse uitgebreide kabinet vooraan en blink motors en ‘n arm massa, of hy kan onthou word as die president wat die soustrein en selfverryking laat ontspoor het.
Die geskiedenis leer dat die wêreld ‘n langer geheue het as wat baie lande graag sou wou hê. Bykans ‘n honderd jaar na die Armeense volksmoord spook hierdie vergryp steeds teen die Turkse staat wat dit steeds as ‘n historiese mite afmaak.
Hitler en Idi Amin word immers nie onthou vir die talle medaljes en eerbewyse wat hulle ontvang het nie.
