President Jacob Zuma het Woensdag ‘n nuwe span aangewys om Zimbabwe se sukkelende eenheidsregering te monitor en daardeur voormalige president Thabo Mbeki se bemiddelingsrol beëindig, het sy kantoor gesê.
“As deel van die evaluasieproses sal die fasiliteringspan Zimbabwe besoek op ‘n datum wat nog bekendgemaak sal word,” het die presidensiële woordvoerder Vincent Magwenya gesê.
“Voormalige president Thabo Mbeki se rol was binne die konteks van sy staatshoofskap,” het Magwenya aan AFP gesê.
Mbeki, wat as president in September 2008 bedank het, het ‘n span onderhandelaars gelei wat die magsdelingsooreenkoms tussen president Robert Mugabe en sy teenstander Morgan Tsvangirai, tans eerste minister, bemiddel het.
Die eenheidsregring wat in Februarie vanjaar tot stand gekom het, gaan gebuk onder magstryde en Tsvangirai het selfs in Oktober vir drie weke ‘n boikot onderneem.
Die dooiepunt is later deur streeksleiers by ‘n spesiale spitsberaad in Mosambiek ontlont.
“Die fasiliteringspan sal binnekort met die partye skakel as afgevaardigdes van die president, en terugrapporteer aan hom,” luid die verklaring.
Die span sluit voormalige kabinetministers Charles Nqakula,Mac Maharaj en Zuma se adviseur vir internasionale aangeleenthede Lindiwe Zulu in.
