’n Kaptein in die Suid-Afrikaanse Polisiediens, SAPD, het haar base na die Arbeidshof in Johannesburg gesleep nadat haar aansoek vir ‘n pos twee keer afgekeur is, en dit glo omdat sy wit is.
Kapt. Renate Barnard is daarvan oortuig dat haar aansoek vir die pos as die nuwe superintendent binne die SAPD se gewone aanklagte-eenheid afgekeur is weens haar velkleur.
Barnard het gesê sy was die regte persoon vir die pos en die paneel het haar glo as kandidaat uitgesonder en haar aanbeveel vir die pos, luidens die hofstukke ingedien deur haar prokureur.
Ongeag die paneel wat haar hoë vlak van toewyding teenoor die SAPD geïdentifiseer het en glo gesê het sy is gewillig om tot die dienslewering van die departement by te dra, het daar niks van gekom nie.
Die pos is in 2005 én 2006 gevries, omdat Barnard se aanstelling glo nie rasseverteenwoordiging sal bevorder nie.
