Wapeneienaars moet lisensies by hul dra

Wapeneienaars wat hul wapens in die openbaar dra, moet ook die betrokke wapenlisensie en hul identiteitsdokument by hulle hê, het die Gautengse polisie Dinsdag gewaarsku.

“Hierdie dokumente is baie belangrik aangesien hulle te eniger tyd deur wetstoepassers gedurende polisiewerksaamhede gekonfronteer mag word,” het superintendent Eugene Opperman gesê.

“… in daardie geval moet hulle dit dan toon. Die lisensie wat hulle dra moet met die spesifieke vuurwapen in hul besit ooreenstem. Die identiteitsdokument is nodig om ‘n persoon se identiteit te bewys aangesien slegs die lisensie nie daardie funksie kan verrig nie.”

Tydens roetine deursoekingsveldtogte wat oor die afgelope 24 uur in die provinsie uitgevoer is, is 13 mense in hegtenis geneem en daar is op agt vuurwapens beslag gelê.

“Een so ‘n voorval Maandag het die inhegtenisname van vier verdagtes behels nadat inligting ontvang is dat die mans ‘n gewapende huisroof in Alberton beplan,” het Opperman gesê.

“Die voertuig wat deur die verdagtes gebruik is, is op die ou Vereenigingpad in Alrode-suid voorgekeer. Toe die voertuig deur die polisie deursoek is, is ‘n gesteelde rewolwer gevind. Al vier mans is in hegtenis geneem.”

In ‘n onverwante voorval, het die Springs-polisie ‘n beweerde ontvoeringsaak ondersoek en na ‘n adres in Derdestraat gegaan. Toe die perseel deursoek is, is ‘n onwettige vuurwapen gevind wat tussen die matras en die basis van die bed weggesteek is.

Een persoon is in hegtenis geneem, het Opperman gesê.

no deposit winтопкарго кидалы

Maak 'n opvolg-bydrae