‘n Australiese TV-programaanbieder het verskoning aangeteken vir ‘n swartgesigparodie van die Jackson Five. Die program, “Hey Hey It’s Saturday”, se gas was ‘n wit Amerikaanse akteur, Harry Connick Jr., wat sigbaar geskok was deur die aanbieding van Woensdagaand.
Vier mans met Afropruike en swartgesmeerde gesigte het saam met ‘n Michael Jackson-nabootser gedans. Die nabootser se gesig was witgesmeer.
Connick, 42, het die vertolking nul gegee en gesê as dit in die VSA opgevoer sou word, sou dit van die lug afgehaal gewees het.
Swartgesigte, oftewel Blackface, dateer van die 19de eeu, waar blankes dikwels swart karakters uitgebeeld het, gewoonlik as stereotipes, deur hulle gesigte met steenkool, ghries of skoenpolitoer swart te smeer.
Blackface-opvoerings is nie algemeen in Australië nie.
Die publiek se reaksie op die parodie was gemeng. In aanlynforums het sommige mense gesê hulle was skaam vir die rassistiese grapvertoning, terwyl ander weer gesê het kritici is te polities korrek en die vertoning was snaaks.
By ‘n nuuskonferensie Donderdagoggend, het opposisiepolitikus Helen Coonan gesê die grapvertoning was “afgryslik”. Die aanbieder Daryl Somers het verskoning gevra vir Connick aan die einde van die lewendige uitsending.
“Ek weet vir jou medeburgers is dit ‘n belediging om ‘n swartgesigklug soos dié op die program te hê, dus vra ek om verskoning,” het Somers gesê.
Connick sê hy sou nie op die program verskyn het, as hy geweet het van die vertoning nie.
“Ek wil net sê, namens my land, ek weet dit was grappig gedoen, maar ons het soveel tyd spandeer daaraan om swartes nie soos bobbejane te laat lyk nie, dat ons regtig so iets ter harte neem as ons dit sien,” het Connick geantwoord.
Anand Deva, die voorbok van “Jackson Jive”, die nabootsing, sê dit was nie as aanstootlik bedoel nie, maar het bygevoeg dat hy dit nie in die VSA sou opvoer nie.
“Hey Hey” is al 27 jaar op die kassie, vanaf 1971.
