Sewentien dae in die presidensiële suite, in een van Kaapstad se mees luukse hotelle, en die geselskap van vyf polisiemanne en twee amptenare, het belastingbetalers bykans ’n kwartmiljoen rand gekos sodat Nathi Mthethwa, minister van polisie, sogenaamd ‘n dak oor sy kop kon hê terwyl daar opknappingswerk aan sy ampswoning gedoen is.
Mthethwa het tussen Mei en Julie 17 aande in die luukse Table Bay-hotel in die V&A Waterfront oornag.
Die presidensiële suite kos R5000 per nag.
Bykomende uitgawes beloop bykans R8700, met etes wat amper R6000 gekos het en drank R630.
Mthethwa het R1000 geblaas om sy pakke te laat droogskoonmaak en byna R900 se oproepe van die telefoon in sy hotelkamer uitgebel. Die minister het ‘n amptelike selfoon.
Fikile Mbalula, die minister se adjunk, het een aand teen R3600 in ’n “superieure kamer” in dieselfde hotel oornag.
Die kamers vir die sewe beamptes het die belastingbetaler R132 200 uit die sak gejaag en hul etes R2600, drankies R673 en wasgoed R2180.
Die hele rekening vir Mthethwa en sy entourage was R234 902, 67.
Dianne Kohler Barnard van die DA het dit as ’n “selfkoesterende daad” beskryf omdat die meerderheid Suid-Afrikaners in ellende leef.
“Hy kon in Akasiapark (die parlementêre dorp in Goodwood buite Kaapstad) gebly het nes die res van ons. Ek weet daar is huise wat oop staan. Of is hy te goed? Is hy beter as ons?” het Kohler Barnard gevra.
Mthethwa kon Woensdagaand nie vir kommentaar bereik word nie.
Besonderhede oor die minister se uitspattige ampsmotors het ook aan die lig gekom.
Hy het ‘n BMW740i en ‘n Mercedes Benz ML500 teen ‘n bedrag van R1,6 miljoen aangeskaf met bykomende luukshede soos ’n sondak, sportvering en elektroniese sitplekverstelling, waarmee hy in Kaapstad en Pretoria rondry.
