Guinee kry ligte skrobering van VSA

Die VSA het sy “diep teleurstelling” met Guinee se militêre leier, Dadis Camara, en sy minister van buitelandse sake uitgespreek ná massamoorde deur die Afrikaland se weermag.

Amptenare van die Verenigde Nasies, VN, en menseregtegroepe sê meer as 150 mense is op 28 September tydens ’n protesoptog in Conakry, die Guinese hoofstad, deur die weermag doodgeskiet.

Betogers was opstandig oor die moontlikheid dat Camara volgende jaar ’n presidensiële kandidaat kan wees.

“VSA-amptenare het hul diepe teleurstelling aan die hoogste range van die Guinese regering te kenne gegee oor die wreedaardige voorval op 28 September,” het ’n woordvoerder, Ian Kelly, Dinsdag aan verslaggewers gesê.

Die VSA het daarop aangedring dat die militêre leier vrede handhaaf, soldate beter beheer en ’n internasionale ondersoek na die voorval toelaat.

Meer as 1 000 mense is glo tydens die skietery beseer en talle vroue en jong meisies is deur soldate verkrag.

“Die VN en die internasionale gemeenskap moet nou optree om hierdie krisis te beëindig,” het Kelly gesê.

Op ’n vraag wat die konkrete stappe wat Amerika sal volg om die Camara-regime voor stok te kry, sal behels, kon Kelly slegs antwoord dat die land beplan om saam met ander lande, insluitende Frankryk en Boerkina Faso, te werk.

 

дровяные печи каменкиДанильченко

Maak 'n opvolg-bydrae