Die naamborde wat die Tshwane-metroraad wil oprig by sy hoofingang sal nie die bestaande aanwysingsborde vervang nie, het die hooggeregshof in Pretoria Dinsdag gehoor.
Volgens adv. Vincent Malekala, wat die Tshwane-metroraad verteenwoordig, is die stad deur Fifa verplig om borde op te sit wat die Wêreldbeker in 2010 bemark.
Luidens die ooreenkoms sal beide Tshwane en Pretoria op die borde verskyn wat tydens die internasionale bemarkingsveldtog gebruik sal word.
Die metroraad beplan om nege borde op te rig by sy hoofingange.
Die VF+ en AfriForum het in 2007 ‘n interdik teen die metroraad gekry om hulle te verhoed om enige borde met die naam Pretoria of Tshwane op te rig. Die raad het nou weer aansoek gedoen om die interdik teen te staan.
Volgens Conrad Beyers, raadslid van die VF+, besef hulle hoe belangrik dit is om 2010 te bemark. “Ons wil die naamborde by die ingange hê, maar dan moet die naam van Pretoria daarop aangebring word,” het hy gesê.
