Die Outomobiel Assosiasie, die AA, het motoriste gewaarsku om nie laatnag in die buurland rond te ry nie.
Dít volg nadat ‘n hele rits rooftogte op die Harare-pad in Zimbabwe aangemeld is.
Gary Ronald van die AA het gesê rowers teiken mense in die noorde van die Beitbruggrenspos in Zimbabwe.
“Die voorvalle is by die kruising van die A4 en A6 net buite Beitbrug ná donker aangemeld.”
Die misdadigers teiken motors wat stadig deur die gebied beweeg deur hul motorbande af te blaas.
“As die bestuuder stop om die voertuig na te gaan, word die insittendes aangeval en beroof. Al die voorvalle is ná donker by die AA aangemeld,” het Ronald gesê.
Ronald het reisigers gemaan om formaliteite by die grenspos vroeg af te handel om sodoende hul bestemming voor donker te bereik.
