Die streeksgrondeisekommissie in Limpopo word daarvan beskuldig dat hulle grondeise ten minste vyf jaar ná die spertyd van Desember 1998 aanvaar het.
Volgens plaaslike boere het mev Mary Rall, wat saam met haar man Jack die Rietfontein-plaas naby Potgietersrus besit, op 29 Mei ’n beroerte gehad toe sy uitvind dat so ’n grondeis nou ook op haar gesin se plaas ingestel is. In 2005 het die Limpopo-kommissie Jack Rall (wat aan Parkinson se siekte ly) skriftelik verseker dat daar geen eise op sy plaas was nie.
Volgens Dries Joubert van die Transvaalse Landbou-unie (TLU) is hierdie soort onregverdigheid egter algemeen. Hy het die kommissie daarvan beskuldig dat hulle lank ná die afsnydatum van Desember 1998 aangehou het om grondeise te registreer en te publiseer. “Dit is tyd dat blanke kommersiële boere duidelik verklaar dat hulle die reg het om hulle grond terug te eis as hulle dit weens onregverdige administratiewe aksie verloor het,” meen Joubert.
Hy het ’n beroep op boere gedoen om daarop aan te dring om die oorspronklike grondeise te sien ten einde seker te maak dat sulke eise nie ná 1998 ingedien is nie. “Grondeienaars word al meer ongeduldig,“ het Joubert voorts gesê.
Volgens ’n woordvoerder van die Limpopo-streeksgrondeisekommissie, Dimakatso Kekana, is dit inderdaad die geval dat eise wat ná die afsnydatum ingedien is, ongeldig is. Op ’n vraag of die kommissie die Rietfontein-geval sal ondersoek, het sy gesê: “Ek weet nie wat in so ’n geval gebeur nie, maar ons kan ons regsdepartement vra om ’n oplossing te probeer vind.“
нужно оборудованиеОлександр Васильович Фільчаков